Suid-Afrika se nuwe minister van Landbou, Willie Aucamp, sê die bekamping van bek-en-klouseer (BKS), die uitbreiding van die land se uitvoermarkte en die verbetering van plaasveiligheid sal van sy belangrikste prioriteite gedurende sy eerste 100 dae in die amp wees.
Aucamp, wat onlangs as minister ingehuldig is, sê hy voel geëerd om die pos te beklee, maar besef die groot verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan.
Volgens hom is die BKS-uitbreking die dringendste uitdaging waarmee die landboubedryf tans te kampe het.
“BKS is die allesomvattende krisis waarmee ons boere op die oomblik te kampe het. Ons moet dit nou van kant af vat en oplos. Dit is tyd dat ons ophou om met mekaar te baklei en saam te staan sodat ons teen dié siekte kan baklei.”
Aucamp sê hy het reeds met Saai gesels en gevra dat ‘n vergadering op 9 Julie belê word om gesprekke oor ‘n moontlike skikking in die organisasie se hofsaak te voer. Volgens hom behoort alle rolspelers ná ‘n skikking op dieselfde bladsy te wees oor hoe die BKS-krisis aangepak moet word.
Hy sê hoewel daar reeds baie entstof in die land beskikbaar is, bly dit sy departement se mikpunt om 80% van die nasionale kudde teen die einde van die jaar teen BKS ingeënt te hê.
Die minister sê hy wil ook saam met Graan SA werk om oplossings te vind vir die koringtariewe wat plaaslike produsente benadeel, asook die skerp styging in insekdoderkoste.
“Ons moet kyk hoe ons saam met ons boere kan staan om dit vir hulle makliker te maak.”
Plaasveiligheid is nog ‘n kwessie waarop hy hom in sy eerste 100 dae wil toespits.
Volgens Aucamp raak plaasaanvalle en plaasmoorde nie net plaaseienaars nie, maar elke plaaswerker en elke persoon wat op ‘n plaas woon of werk.
“Ons boere verdien om veilig te wees. Ons boere sit kos op ons tafels. Ons moet sorg dat hulle veilig is.”
Hy sê hy sal aanhou druk uitoefen dat plaasaanvalle en plaasmoorde as prioriteitsmisdade verklaar word.
Volgens hom, indien geweld op die Kaapse Vlakte of kommersiële misdaad as prioriteitsmisdade hanteer kan word, behoort dieselfde vir plaasaanvalle en plaasmoorde te geld.
Aucamp het ook veediefstal as ‘n ernstige probleem uitgesonder.
“Daar is onder meer baie mense wat nie meer met skape boer nie, want hulle sê dit is soos ‘n drive-through. Mense kom verby, laai ‘n paar skape op ‘n bakkie en ry weg.”
Hy sê hy wil nou saamwerk met boere, georganiseerde landbou, veeveilings en ander rolspelers om oplossings vir die uitdagings in die landboubedryf te vind.
“Ek kan dit nie alleen doen nie. Ek wil met hulle saamwerk. Ek wil ‘n suksesvolle minister van Landbou wees, maar om dit te doen, weet ek dat ek met mense moet saamwerk.”
Wat sy ministeriële kantoor betref, sê Aucamp dat hy personeel sal aanstel met wie hy reeds in sy vorige ministeriële amp saamgewerk het. Sy stafhoof is Thobile Molobe, terwyl ander vakante poste mettertyd gevul sal word ná deeglike oorweging van aanstellings.
Boer24.com wonder of hy die mas gaan opkom?