Die EFF-leier, Julius Malema, het die Verenigde State daarvan beskuldig dat hulle ’n “ongebreidelde rassis” as diplomaat na Suid-Afrika gestuur het. Sy opmerkings volg ná die aankoms van Leo Brent Bozell, die VSA se nuwe ambassadeur in Suid-Afrika.
Malema het Dinsdag in die parlement gesê Suid-Afrika moet sy reg uitoefen om samewerking te weier met enige individu wie se doel dit is om aan die land voor te skryf hoe sy buitelandse beleid ingerig moet word. Volgens hom mag geen buitelandse mag dikteer wie Suid-Afrika se vriende of vyande moet wees nie.
Hy het president Cyril Ramaphosa ook aangemoedig om die Israeliese ambassade in Pretoria te sluit. Malema het verder geëis dat Israel se verteenwoordiger as persona non grata verklaar word en dat diplomatieke betrekkinge met Israel verbreek moet word, wat hy as ’n “volksmoordnasie” bestempel het.
Hoewel Malema Ramaphosa skerp gekritiseer het oor verskeie binnelandse kwessies – veral die hantering van die waterkrisis – het hy saamgestem met die president se standpunt oor internasionale betrekkinge.
“Menere die president, ons wil vir u sê, ons ondersteun u ten volle in u houding wat internasionale betrekkinge betref,” het Malema gesê. Hy het bygevoeg dat geen nasie weer moet dink hulle het die reg om Suid-Afrika te “boelie” of af te dwing met wie die land bande mag hê nie – ’n duidelike verwysing na die VSA.
In sy staatsrede het Ramaphosa beklemtoon dat Suid-Afrika hom nie deur ander lande sal laat voorskryf of intimideer nie, ’n standpunt wat nou, ten spyte van politieke verskille, steun uit die EFF-bank ontvang het.