Suid-Afrika het ‘n lening van $1,5 miljard (sowat R24,76 miljard) van die Wêreldbank bekom om infrastruktuur te moderniseer en ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.
Die lening is die vierde afsonderlike ontwikkelingsbeleidslening wat die Wêreldbank sedert 2022 aan Suid-Afrika toegestaan het. Die doel is om infrastruktuurknelpunte aan te spreek wat volgens die bank die afgelope dekade tot swak ekonomiese groei bygedra het.
Die Wêreldbank sê hervormings in die elektrisiteits-, vervoer- en watersektor wat deur die finansiering ondersteun word, kan teen 2032 byna 600 000 nuwe werksgeleenthede skep, waarvan sowat 280 000 reeds volgende jaar verwag word.
Volgens die Wêreldbank bou die nuwe lening voort op hervormings wat reeds tasbare resultate begin lewer het.
Die instelling sê beurtkrag is die afgelope 18 maande feitlik uitgeskakel, terwyl private beleggings in hernubare energieprojekte sesvoudig toegeneem het. Vragvolumes per spoor en deur hawens het volgens die bank sedert 2023 met meer as 50% gestyg.
Beurtkrag, wat jare lank byna daagliks voorgekom het, het die afgelope tyd aansienlik afgeneem namate die regering voortgaan met hervormings van die staatsbeheerde kragvoorsiener wat onder president Cyril Ramaphosa ingestel is.
Volgens ‘n hervormingsmoniteringstelsel van Business Leadership South Africa is byna 70% van die prioriteitsprojekte óf volgens skedule óf reeds voltooi.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het gesê die program weerspieël die regering se vasberadenheid om die infrastruktuurbeperkings te verwyder wat ekonomiese groei en werkskepping te lank gekniehalter het.
Hy het gesê die samewerking met die Wêreldbankgroep verdiep hervormings wat reeds in die energie- en vervoersektor resultate lewer, terwyl daar vir die eerste keer ook gefokus word op bestuurs- en beleggingsgapings in die watersektor wat miljoene huishoudings, veral die armstes, raak.