JOHANNESBURG – Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêrebeleidskomitee (MBK) se besluit om die rentekoers onveranderd te hou, bring welkome verligting vir die landbousektor ondanks die styging in inflasie gedurende Junie, sê Standard Bank Suid-Afrika.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het die verbruikersinflasie in Junie tot 5% gestyg, vergeleke met 4,5% in Mei. Dit beweeg verder weg van die Reserwebank se voorkeurteiken van 3%. Weens die Reserwebank se proaktiewe benadering om inflasie te bekamp, het die markte die moontlikheid van nóg ‘n rentekoersverhoging verwag.
Brendan Jacobs, hoof van Agribesigheid vir Sake- en Kommersiële Bankdienste by Standard Bank Suid-Afrika, sê die besluit om die rentekoers onveranderd te laat, is welkome nuus vir landboubesighede wat reeds onder druk verkeer weens stygende inset-, vervoer- en bedryfskoste.
“Gegewe die styging in inflasie en die Reserwebank se proaktiewe benadering tot inflasiebestuur, is ‘n rentekoersverhoging vandag verwag. Daarom is die besluit om rentekoerse onveranderd te hou welkome verligting vir landboubesighede.”
Jacobs sê ‘n verdere rentekoersverhoging ná die vorige styging in Mei sou die finansiële druk op landboubesighede verder verhoog het.
“Vandag se besluit voorkom ten minste hoër rentekoerse vir diegene met skuld, wat hul kostebasis verder sou verhoog.”
Hy waarsku egter dat die sektor steeds aan beduidende eksterne risiko’s blootgestel is, veral weens die voortgesette konflik in die Midde-Ooste.
Volgens Jacobs bly die konflik ‘n uitdaging vir landboubesighede omdat Suid-Afrikaanse landbou sterk afhanklik is van belangrike invoere soos kunsmis en diesel, wat die sektor kwesbaar maak vir wêreldwye voorsieningsontwrigtings en hoër insetkoste.
“Die voortgesette konflik in die Midde-Ooste bly ‘n uitdaging vir landboubesighede gegewe ons afhanklikheid van belangrike invoere soos kunsmis en diesel uit die streek.”
Hy sê produsente moet wêreldontwikkelings steeds noukeurig monitor aangesien dit produksiekoste kan beïnvloed.
Ondanks dié uitdagings wys Jacobs op bemoedigende ontwikkelings met voedselinflasie.
Voedselprysinflasie het in Junie tot 1,4% verlangsaam, teenoor 1,6% in Mei. Dit is ondersteun deur sterk plaaslike voorrade van belangrike landbouprodukte, waaronder graan, vrugte en groente.
Volgens hom bring die laer voedselinflasie welkome verligting vir verbruikers wat steeds die druk van hoër lewenskoste ervaar.
“Die sterk aanbod van graan, vrugte en groente het tot laer voedselinflasie bygedra en bring welkome verligting vir verbruikers.”
Hoewel die onveranderde rentekoers korttermynsekerheid aan ondernemings en leners bied, beklemtoon Jacobs dat landboubesighede waaksaam moet bly namate inflasierisiko’s en wêreldwye geopolitieke ontwikkelings steeds die bedryfsomgewing beïnvloed.
Hy sê die sektor se vermoë om by veranderende marktoestande aan te pas en internasionale faktore wat insetkoste beïnvloed, dop te hou, sal in die komende maande van kritieke belang wees.