PRETORIA – AfriForum en die Nama-Afrikaner-familiestam SA het Maandag ‘n samewerkingsooreenkoms onderteken om op verskeie terreine ten bate van albei gemeenskappe saam te werk.
Die ooreenkoms is in Pretoria onderteken en fokus op onder meer kultuurregte, gemeenskapsontwikkeling, veiligheid, moedertaalonderrig, landbouontwikkeling en die beskerming van kulturele erfenis.
Gaob (kaptein) Karl Afrikaner, voorsitter van die Tradisionele Huis van die Afrikaner-familiestam SA, het die ooreenkoms as ‘n belangrike mylpaal beskryf om ‘n blywende verhouding tussen die twee gemeenskappe te vestig.
“Ons gemeenskappe staan voor groot uitdagings. Daarom is dit noodsaaklik dat ons saamwerk om praktiese oplossings te vind en dit toe te pas,” het hy gesê.
Volgens Afrikaner behoort die vennootskap ‘n tasbare verskil in mense se daaglikse lewe te maak deur gemeenskappe sterker en meer selfstandig te help word.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dit is vir die organisasie ‘n voorreg om die geskiedkundige ooreenkoms met die Nama-Afrikaner-familiestam SA aan te gaan.
Hy het gesê AfriForum beskou praktiese optrede as noodsaaklik om ‘n vrye, veilige en voorspoedige toekoms vir gemeenskappe te help verseker.
Die ooreenkoms maak onder meer voorsiening vir samewerking oor gemeenskapsveiligheid, eiendomsreg, voedselsekerheid, gemeenskapselfstandigheid en die bevordering van moedertaalonderrig, kulturele identiteit, erfenis, godsdiensvryheid en kulturele gebruike.
Wedersydse erkenning en respek, vreedsame naasbestaan en die erkenning van gemeenskappe se reg om hul eie belange en instellings te bestuur, vorm die grondslag van die ooreenkoms.
Barend Uys, AfriForum se hoof van interkulturele verhoudings en samewerking, het gesê die organisasie streef daarna om brûe tussen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe te bou.
“Dit is vir ons ‘n eer om ‘n bondgenoot van die Nama-Afrikaner-familiestam SA te wees in die strewe om ‘n ruimte te skep waar toekomstige geslagte in vrede langs mekaar kan leef,” het hy gesê.
‘n Weergawe van die ooreenkoms is ook in Nama onderteken. Volgens Afrikaner is die behoud en bevordering van die Nama-taal, veral onder kinders, van groot belang vir die gemeenskap.
AfriForum het reeds soortgelyke samewerkingsooreenkomste met verskeie tradisionele en kulturele gemeenskappe in Suid-Afrika en Botswana gesluit. Volgens die organisasie het dié vennootskappe reeds tot projekte op die gebied van landbouontwikkeling, kulturele erfenis, kulturele identiteit en die bevordering van inheemse tale gelei.