Van medisyne en doktersbesoeke tot hospitaalopnames, siekverlof en produktiwiteitsverliese – vanjaar se griepseisoen plaas ‘n swaar finansiële las op Suid-Afrikaners én werkgewers.
Vir baie mense begin die koste met oor-die-toonbank-medisyne, maar kan dit vinnig toeneem wanneer dokterskonsultasies, laboratoriumtoetse, voorskrifmedisyne en afwesigheid van die werk bygereken word.
By apteke is rakke gevul met verkoue- en griepmiddels, hoesstroop, vitamiene en aanvullings wat immuunondersteuning bied. Algemene griepmiddels wissel van sowat R106 vir Benylin 4 Flu-stroop tot R177 vir Corenza C-tablette, terwyl ACC600-bruistablette ongeveer R169 kos. Vitamiene en aanvullings kos tussen ongeveer R50 en R100 per bottel.
Die uitgawes neem verder toe wanneer mediese behandeling nodig is. Dokterskonsultasies, patologietoetse en antivirale medisyne soos oseltamivir kan die rekening met honderde of selfs duisende rand verhoog.
‘n Apteker in Johannesburg het gesê ‘n vyfdagkursus van die oorspronklike Tamiflu kos ongeveer R800, terwyl ‘n generiese weergawe ongeveer die helfte daarvan kos.
Indien ‘n bakteriële infeksie ook teenwoordig is, kan antibiotika saam met antivirale medisyne voorgeskryf word.
Een inwoner van Johannesburg het vertel dat ‘n onlangse griepaanval hom sowat R11 000 uit die sak gejaag het nadat dokterskonsultasies, laboratoriumtoetse en medikasie in berekening gebring is.
Volgens anekdotiese verslae was vanjaar se griepseisoen besonder ernstig, met sommige mense wat langer as ‘n week bedlêend was.
Volgens ‘n huisdokter in Johannesburg kan die virus wat tans die rondte doen influenza A of varkgriep wees, of moontlik ‘n mutasie daarvan saam met Covid-19.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het 94 monsters van pasiënte met simptome wat dikwels met griep en longontsteking verband hou, ontleed. Ongeveer 10% het positief vir influenza getoets, terwyl 20% respiratoriese sinsitiale virus (RSV) gehad het.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bly die wêreldwye persentasie positiewe grieptoetse onder 10%, hoewel dit in die Suidelike Halfrond sowat 15% beloop.
Die WGO skat dat daar jaarliks sowat een miljard gevalle van seisoenale griep wêreldwyd voorkom, waarvan tussen drie en vyf miljoen ernstig is. Griep veroorsaak jaarliks na raming tussen 290 000 en 650 000 sterftes weens respiratoriese komplikasies.
Die finansiële impak van griep strek egter verder as mediese uitgawes. Volgens Paresha Kala, senior bestuurder van Alexforbes Health Management Solutions, het langdurige siekteverlof ‘n invloed op werknemers se welstand, ondernemings se bedrywighede en hul langtermynveerkragtigheid.
‘n Oorsig van die beleid oor langdurige en spesiale siekteverlof by 24 organisasies het getoon dat slegs 54% ‘n formele beleid vir verlengde siekteverlof het, terwyl 42% glad nie daarvoor voorsiening maak nie.
Kala meen langdurige afwesigheid behoort deel van ‘n breër raamwerk vir gesondheidsrisikobestuur te wees, eerder as om bloot as ‘n menslikehulpbron-aangeleentheid hanteer te word.
Volgens haar kan die monitering van tendense soos die duur van afwesigheid, herhalende gevalle, mediese toestande, ongeskiktheidsuitkomste en suksesvolle terugkeer werk toe organisasies help om gesondheidsrisiko’s vroeër te identifiseer.
Sy sê dié inligting stel werkgewers in staat om meer proaktief op te tree, bestuurders beter te ondersteun en beleid aan te pas waar nodig. Op die lang duur kan dit langdurige afwesigheid beperk, die risiko van ongeskiktheid beter bestuur en werkgewers ‘n duideliker beeld van hul arbeidsmag se gesondheid en kapasiteit gee.
Navorsing wat in 2019 met steun van die Nios gedoen is, het beraam dat griepverwante siektes Suid-Afrika jaarliks sowat R4,5 miljard kos. Die WGO waarsku ook dat griepepidemies tot hoë vlakke van afwesigheid by werk en skole kan lei, produktiwiteitsverliese kan veroorsaak en gesondheidsdienste onder druk kan plaas.
Navorsing dui daarop dat koue temperature en lae humiditeit die verspreiding van griep kan bevorder. Met verdere kouefronte en moontlik selfs sneeu wat vir dele van Suid-Afrika voorspel word, kan weersomstandighede die verspreiding van die virus steeds beïnvloed.