Suid-Afrikaners, wat reeds swaar getref is deur rekord-brandstofprysverhogings in April, kan in Mei met nóg skerper stygings gekonfronteer word indien die spanning rondom die Straat van Hormuz nie hierdie week opgelos word nie.
Vroeë maanddata van die Sentrale Energiefonds (CEF) dui op moontlike dieselprysverhogings van meer as R10 per liter, bo en behalwe die verhogings van tussen R7,37 en R7,51 wat op 1 April ingestel is.
Die vooruitsig vir petrolpryse is minder drasties, maar steeds beduidend, met CEF-data wat op moontlike stygings van sowat R3 per liter dui.
Hoewel die maandelikse gemiddelde onderverhaling tans tussen R4,29 (vir 93-oktaan loodvry) en R4,69 (vir 95-oktaan loodvry) wissel, toon die jongste daaglikse data ’n tekort van tussen R2,00 en R2,52. Dit dui daarop dat die vroeëre syfers moontlik teen maand-einde kan afneem.
Brent-ruolie het Dinsdagoggend rondom $111 per vat verhandel, aansienlik hoër as die gemiddelde van $94 gedurende die vorige hersieningsperiode wat April se brandstofpryse bepaal het.
Die jongste styging in oliepryse volg nadat Donald Trump gedreig het om Iran te “vernietig” indien die land nie die kritieke Straat van Hormuz teen middernag (00:00 GMT Woensdag) heropen nie.
“Ons het ’n plan … waar elke brug in Iran teen môreaand 12-uur vernietig sal word, en waar elke kragstasie buite werking gestel sal word—brandend, ontploffend en onbruikbaar,” het Trump Maandag gesê.
Teen Dinsdagoggend het berigte na vore gekom dat Iran ’n voorgestelde wapenstilstand verwerp het, ondanks die skerp dreigemente van die Amerikaanse president. Iran het, deur bemiddeling van Pakistan, die voorstel van die hand gewys het en aangedring het op ’n “definitiewe einde aan die konflik”.
Teheran se eise sluit na bewering in ’n beëindiging van konflik in die streek, ’n protokol vir veilige deurgang deur die Straat, heropbou en die opheffing van sanksies.
Brandstofpryskrisis
Na April se rekordverhogings kos ’n liter 95-oktaan loodvrye petrol tans R22,53 aan die kus en R23,36 in die binneland, terwyl 93-oktaan loodvry teen R23,25 verkoop word. Die groothandelprys van 50ppm-diesel het gestyg tot R25,35 aan die kus en R26,11 in Gauteng.
Die genoemde onderverhalings wat met oliepryse verband hou, kan verder vererger word deur die sogenaamde Slate-heffing. Hierdie meganisme vergoed oliemaatskappye vir oor- en onderverhalings in die vorige hersieningsperiode. Dit is nodig omdat brandstofpryse slegs maandeliks aangepas word, terwyl olie deurlopend verhandel word.