Een van Suid-Afrika se mees gebruikte historiese argiefversamelings is nou digitaal bewaar nadat die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Erfenisstigting ‘n omvangryke digitaliseringsprojek van die Ossewabrandwag-argief suksesvol voltooi het.
Volgens Jacoline Jansen van Vuuren, hoof van die NWU se rekord-, argief- en museumafdeling, verseker die projek dat dié belangrike historiese versameling vir toekomstige geslagte bewaar word, terwyl dit terselfdertyd makliker vir navorsing en erfenisbewaring toeganklik is.
Die projek vloei voort uit ‘n ooreenkoms wat die NWU en die Erfenisstigting reeds in 2013 gesluit het. Ingevolge die ooreenkoms is die volledige digitale weergawe van die argief aan die Erfenisstigting geskenk om navorsing, bewaring en die bevordering van Suid-Afrika se kultuur- en geskiedeniserfenis te ondersteun.
Die oorspronklike dokumente bly steeds onder die sorg van die NWU, terwyl die digitale weergawe die inhoud daarvan op ‘n volhoubare wyse vir navorsers beskikbaar stel.
Die digitaliseringsprojek is in twee fases voltooi. Die eerste fase het 522 argiefbokse met 359 156 bladsye ingesluit, terwyl die tweede fase nog 26 gemengde argiefbokse met 45 390 bladsye omvat het.
Altesaam is 404 546 bladsye historiese dokumente gedigitaliseer.
Van Vuuren sê die Ossewabrandwag-argief is al dekades lank een van die mees geraadpleegde historiese versamelings aan die universiteit en het die afgelope 25 jaar as bron vir talle wetenskaplike publikasies, historiese studies en nagraadse navorsing gedien. Die versameling lok steeds plaaslike én internasionale navorsers.
Dr. Charl Blignaut, voormalige senior dosent in geskiedenis aan die NWU, sê die digitalisering is noodsaaklik omdat papierdokumente met verloop van tyd agteruitgaan.
“Die digitalisering van die Ossewabrandwag-argief lewer ‘n belangrike bydrae tot die bewaring van Suid-Afrika se geskiedenis. Die digitale formaat verseker dat navorsers, akademici en toekomstige geslagte steeds toegang tot hierdie waardevolle bron sal hê,” het hy gesê.
Volgens Van Vuuren ondersteun die argief tans verskeie navorsingsinisiatiewe, waaronder die ontwikkeling van ‘n nuwe Engelstalige geskiedenis van die Ossewabrandwag, asook samewerkingsprojekte met instellings soos die Militêre Akademie in Saldanha.
Die Ossewabrandwag is in 1939 gestig en het op sy hoogtepunt meer as 350 000 lede gehad.
Die Erfenisstigting se besturende direkteur, dr. Danie Langner, sê die oordrag van die digitale argief is ‘n belangrike belegging in die bewaring van Afrikanergeskiedenis.
“Erfenis leef nie net in monumente en museums nie, maar ook in dokumente wat die verhale van mense, gemeenskappe en gebeurtenisse vertel. Deur hierdie argief digitaal te bewaar, verseker ons dat toekomstige geslagte direkte toegang tot die oorspronklike bronne sal hê om hul eie geskiedenis te bestudeer,” het Langner gesê.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting, sê digitalisering is ook belangrik vir moderne navorsing.
“Baie mense gebruik kunsmatige intelligensie vir navorsing, maar die resultate is dikwels onvolledig of onakkuraat wanneer historiese bronne nog nie gedigitaliseer is nie. Hoe meer historiese bronne gedigitaliseer word, hoe meer volledig en akkuraat word aanlyn navorsing,” het sy gesê.
Die NWU en die Erfenisstigting het hul dank uitgespreek teenoor skenkers, erfenisorganisasies, navorsers en ander rolspelers wat die bewaring, digitalisering en beskikbaarstelling van die versameling moontlik gemaak het.
Volgens die NWU en die Erfenisstigting beklemtoon die suksesvolle voltooiing van die projek die waarde van samewerking tussen akademiese instellings en erfenisorganisasies om Suid-Afrika se dokumentêre erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar.