Vier sebras – een hings en drie merries – is onlangs suksesvol vanaf die Rietvlei-natuurreservaat na die Voortrekkermonument en Natuurreservaat verskuif. Volgens die Kultuurtuiste sal die aankoms van die sebras die reservaat se biodiversiteit versterk en besoekers nóg ‘n geleentheid bied om Suid-Afrika se ikoniese wild van naby te ervaar.
Die 341 hektaar groot reservaat tussen Centurion en Pretoria huisves reeds swartwildebeeste, blesbokke, rooibokke, meerkatte, nagapies en ‘n groot verskeidenheid voëlspesies.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste, vorm die uitbreiding van die wildbevolking deel van die organisasie se verbintenis tot die bewaring van die terrein se natuurlike erfenis.
“Die Voortrekkermonument is veel meer as net ‘n historiese monument. Dit is ‘n plek waar kultuur, erfenis en natuur mekaar ontmoet. Die nuwe sebras maak die reservaat nóg meer besonders en gee besoekers die geleentheid om ‘n egte wildervaring te ervaar sonder om Pretoria te verlaat,” sê Brand.
Hy sê die reservaat lok jaarliks duisende besoekers wat kom stap, draf, fietsry, perdry, voëls kyk of bloot die rustigheid van die natuur geniet.
Intussen het Genesis K9 onlangs weer die Monument-terrein besoek waar studente en werkshonde praktiese opleiding in spoorsny, opsporing en ander operasionele vaardighede ontvang het. Die uitgestrekte terrein met sy oop ruimtes, digte plantegroei en heuwelagtige landskap bied volgens die Kultuurtuiste ideale omstandighede vir realistiese opleidingscenario’s.
Die oefeninge het ook besoekers se belangstelling geprikkel, aangesien toeriste kon toekyk hoe die honde hul indrukwekkende vermoëns demonstreer en meer kon leer oor die rol van opgeleide werkshonde in veiligheid en misdaadvoorkoming.
Vanweë die sukses van die onlangse opleidingsessie oorweeg Genesis K9 om die Voortrekkermonument-terrein meer gereeld vir opleiding te gebruik. As deel van die vennootskap sal die organisasie ook tydens die Kultuurtuiste se Erfenisdagfees op 24 September ‘n lewendige demonstrasie aanbied waar besoekers soek-, opsporings- en veiligheidsdemonstrasies sal kan bywoon.
Die samewerking tussen Genesis K9 en die Kultuurtuiste strek reeds oor verskeie jare. In 2023 het Genesis K9 drie opgeleide werkshonde – die Hollandse herdershond Steve O en twee Rottweilers, Volt en Ellie – op ‘n bruikleengrondslag aan die Voortrekkermonument beskikbaar gestel om met die beveiliging van die terrein, personeel en besoekers te help.
Volgens Danie Dreyer, risikobestuurder van die Kultuurtuiste, is die vennootskap ‘n voorbeeld van hoe samewerking wedersydse voordele kan oplewer.
“Die Voortrekkermonument se terrein bied ‘n unieke opleidingsomgewing waar Genesis K9 se studente en honde in realistiese omstandighede kan oefen. In ruil daarvoor versterk hierdie verhouding ons eie veiligheidsvermoë en help dit ons om die terrein nog beter te beskerm.”
Brand nooi die publiek uit om die nuwe sebras te kom ontmoet en self die unieke kombinasie van kultuur, erfenis en natuur te beleef.
Die Kultuurtuiste het ook sy dank uitgespreek teenoor Alexander Heunis en Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring, asook dr. Heinrich Davies van die Roodeplaatdam Dierekliniek, wat die verskuiwing van die sebras moontlik gemaak het.