“O dear, o dear…” Só het die kommentators kort voor rustyd gereageer toe die Bulls se nagmerrie-eindstryd teen Leinster verder ontspoor het. Teen daardie stadium was dit reeds duidelik dat die Pretorianers op pad was na nóg ’n pynlike nederlaag.
Leinster is vir die tweede agtereenvolgende jaar as kampioen van die Verenigde Rugbykampioenskap gekroon en het daarmee die eerste span in die geskiedenis van die kompetisie geword wat die titel twee keer agtereenvolgens wen. Hulle het die Bulls met 36-7 afgeransel in ’n wedstryd wat feitlik binne die eerste halfuur beslis is.
Die eindtelling vertel die storie van ’n eensydige eindstryd waarin die Bulls hul eie grootste vyand was. Foute, swak dissipline en gemorsde geleenthede het Leinster die kans gegee om die wedstryd vroeg te beheer.
Dit was dieselfde stadion as verlede jaar, dieselfde teenstander en byna dieselfde verhaal. Voor sowat 40 000 toeskouers in die 82 000-sitplek Croke Park-stadion het die Bulls vir hul vierde eindstryd opgedaag – en met ’n vierde nederlaag vertrek.
Die moeilikheid het vroeg begin toe Handré Pollard balbesit in sy eie helfte verloor het. Tommy O’Brien het die fout uitgebuit en die eerste drie gaan druk. Daarna het Rieko Ioane en Jack Conan ook oorgeduik.
Die Bulls, wat twee weke tevore nog ’n merkwaardige terugkeer teen Edinburgh gemaak het, het soos ’n span gelyk wat reeds al sy energie opgebruik het.
Canan Moodie en Willie le Roux se geelkaarte het sake verder bemoeilik. Die Bulls moes vir groot dele van die eerste helfte met 14 spelers klaarkom, terwyl Leinster die een fout ná die ander uitgebuit het.
Voor die wedstryd is die losskakelstryd tussen die ervare Handré Pollard en die jong Sam Prendergast as een van die groot wedstrydpunte beskou. Op die veld was daar egter net een wenner.
Prendergast het een van die beste vertonings van sy loopbaan gelewer. Hy het ’n seker Bulls-drie verhoed, vier doelskoppe en ’n strafskop oorgeklits en ook self gaan druk.
Hy is ná die wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys.
Pollard het intussen een van sy swakste wedstryde in jare beleef. Selfs sy strafskoppe het hom in die steek gelaat.
Leinster se skrumskakel, Jamison Gibson-Park, het die wedstryd meesterlik beheer en die Bulls voortdurend onder druk gehou.
Aan die ander kant kon die Bulls nooit werklik momentum opbou nie. Hul lynstane het verbrokkel, hul lugspel het misluk en hul dissipline het hulle duur te staan gekom.
Teen die tyd dat Harry Byrne Leinster se vyfde drie gedruk het, was die uitslag lank reeds beslis.
Vir Leinster was dit ’n geskiedkundige aand. Vir die Bulls was dit nóg ’n pynlike les in hoe duur foute op die grootste verhoog gestraf word.