Coca-Cola Suid-Afrika bied rugbyondersteuners vanjaar weer die geleentheid om vir ‘n dag deel van die Springbok-opset te wees met die terugkeer van sy “Coca-Cola Fan Can Be a Bok”-veldtog vir die 2026-seisoen.
Volgens Coca-Cola vier die veldtog die passie, tradisies, trots en lojaliteit van ondersteuners wat nog altyd deel van die Springbok-verhaal was.
Wenners sal ‘n stemboodskap van Springbok-afrigter Rassie Erasmus ontvang waarin hulle simbolies tot die span “opgeroep” word. Daarna sal hulle en ‘n metgesel die kans kry om ‘n wedstryddag saam met die Springbokke te beleef.
Die ervaring sluit onder meer ‘n verblyf in die spanhotel, bywoning van die Captain’s Run, die amptelike spanfoto, ‘n stap deur die spelerstonnel en die geleentheid om tydens die volkslied langs die veld te staan in. Hulle sal die wedstryd ook saam met Springbokspelers wat nie dié dag speel nie, kan bywoon.
Een wenner per tuistoets in 2026 sal dié ervaring geniet, terwyl een wenner later vanjaar ook na Frankryk sal reis om die Springbokke tydens hul toer in aksie te sien.
Mario I. Garcia, visepresident en besturende direkteur van Coca-Cola Suid-Afrika, sê Springbokrugby is veel meer as net ‘n sport.
“Met die Coca-Cola Fan Can Be a Bok gee ons ondersteuners die geleentheid om die emosie, trots en energie van die span van binne te ervaar, terwyl ons die rol vier wat ondersteuners in elke Springbok-verhaal speel,” het hy gesê.
Versamelblikkies keer terug
Die veldtog sluit ook vanjaar ‘n beperkte reeks versamelblikkies in met afbeeldings van 20 Springbokspelers – 15 spelers van die manspan en, vir die eerste keer, vyf spelers van die Springbok-vrouespan.
Elke blikkie bevat die speler se foto, naam en die datum en plek waar hy of sy die eerste keer vir die Springbokke opgeroep is.
Spelers soos Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Babalwa Latsha, Sinazo Mcatshulwa en Lindelwa Gwala verskyn op die blikkies. Coca-Cola sal in Augustus ook ‘n spesiale Rassie Erasmus-versamelblikkie bekend stel.
Digitale veldtog
Die veldtog sal ook op digitale platforms en sosiale media voortgaan. Die komediant Donovan Goliath is deur Erasmus as die veldtog se “Chief Gees Officer” aangewys en sal saam met inhoudskeppers die veldtog deur die rugbyseisoen help bevorder.
Ondersteuners sal ook aan “Shoot Your Shorts”, ‘n interaktiewe tweede-skerm-speletjie tydens wedstryduitsendings, kan deelneem. Die speletjie fokus op die Coca-Cola-logo op die Springbokke se broeke en bied nog ‘n manier waarop ondersteuners tydens wedstryde by die veldtog betrokke kan raak.
Die veldtog sal ook interaktiewe stadionaktiwiteite, BBP-ondersteunersones en “phygital”-speletjies insluit. Dit sal landwyd deur winkels, radio, buitelugadvertensies, digitale platforms en sosiale media aangebied word, met ondersteuning van Coca-Cola Beverages South Africa en Coca-Cola Peninsula Beverages.