Grassfields-stoetery se veiling het sterk belangstelling gelok, met verskeie topdiere wat indrukwekkende pryse behaal het. Die stoet behoort aan die Wakkerstroom-boer Shawe, wat in 2024 as Voermol se Beesboer van die Jaar aangewys is. Sy kudde bestaan uit Grassfields-beeste uit sy Droughtmaster-stoetery, asook ’n kommersiële kudde met genetika van onder meer Brahman, Simmentaler, Angus en Beefmaster.
Die veiling is deur Simon Hughes saam met die Meerkat-platform aangebied. Die afslaer, Johan van der Nest, het die verrigtinge met ’n openingsbod van R100 000 afgeskop, waarna kopers mekaar behoorlik uitgedaag het.
Een van die hoogtepunte van die dag was die verkoop van Artimus GRB 220112, ’n geregistreerde Droughtmaster-stoetbul. Die dier het vinnig die aandag van kopers getrek en uiteindelik vir R380 000 verkoop. Die hoogste bod is deur Dihan Viljoen van Tau Droughtmasters by Leeudoringstad uitgebring.
Die Viljoen-familie is geen vreemdeling vir landbou-toekennings nie. Dihan se pa, Hansie, is vanjaar as Graanprodusent van die Jaar aangewys, meer as drie dekades nadat sy pa, Boetie Viljoen, as Suid-Afrika se voorste mielieboer vereer is. Die nuwe bul sal in Tau Droughtmasters se teelprogram gebruik word om jong koeie te dek. Die familie se boerderybedrywighede strek oor Noordwes, die Vrystaat en Botswana, en sluit ook ’n voerfabriek in.
Altesaam 12 bulle het pryse van meer as R100 000 behaal. Die kommersiële Grassfields-bulle het gemiddeld R61 822 behaal, terwyl die duurste een vir R140 000 verkoop is. Die Droughtmaster-bulle se gemiddelde prys was R122 222. Die totale omset van die veiling het die R5 miljoen-kerf verbygesteek.
By die vroulike diere het die Droughtmaster-verse gemiddeld R49 846 behaal. Die drie duurste verse is elk vir R75 000 verkoop aan onderskeidelik Philip Peters, Tirisano Droughtmasters van Kameelvlakte, en die Brahwil-boerdery by Klerksdorp. Droughtmaster-koeie het gemiddeld R40 200 behaal, met die hoogste prys van R75 000 wat deur Don McHardy van Reeba Droughtmasters by Dargle betaal is.
Dragtige kommersiële verse het gemiddeld R22 164 behaal, terwyl kommersiële koeie teen ’n gemiddelde van R22 137 van eienaar verwissel het.