Marius Borg Høiby, die 29-jarige seun van Noorweë se kroonprinses, Mette-Marit, is skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting en tot vier jaar tronkstraf gevonnis.
Die drie regters van die Oslo-distrikshof het hom van twee ander verkragtingsaanklagte vrygespreek, maar hom wel skuldig bevind aan verskeie ander misdrywe waarvoor hy tereggestaan het.
Høiby was om gesondheidsredes nie persoonlik in die hof teenwoordig tydens die uitspraak nie, maar het die verrigtinge per videoverbinding gevolg.
Aanklaers het ’n gevangenisstraf van sewe jaar en sewe maande geëis, terwyl sy regsverteenwoordigers gepleit het vir ’n vonnis van 18 maande. Sy regspan kan nog teen die uitspraak appelleer.
Hoewel Høiby nie self ’n lid van die koningshuis is nie, het die saak ’n skadu oor Noorweë se koninklike familie gewerp. Sy ma het met kroonprins Haakon getrou toe Høiby vier jaar oud was, waarna hy saam met die koninklike gesin grootgeword het.
Die paleis het aangedui dat daar geen kommentaar oor die uitspraak gelewer sal word nie.
Mette-Marit ly aan ’n ernstige vorm van longfibrose en is onlangs op ’n longoorplantingswaglys geplaas.
Høiby se regsverteenwoordigers het herhaaldelik versoek dat hy uit aanhouding vrygelaat word sodat hy tyd saam met sy ma kon deurbring weens haar verswakkende gesondheidstoestand.
Na die uitspraak het sy prokureur, Petar Sekulic, weer om sy vrylating aansoek gedoen. Hoewel die Oslo-distrikshof verlede week aanvanklik sy vrylating toegestaan het, is dié besluit later deur die Noorse Hooggeregshof tersyde gestel.
Regter Jon Sverdrup Efjestad het Maandag die hofverrigtinge begin met ’n opsomming van die hof se bevindings voordat hy die 128-bladsy-uitspraak verduidelik het.
Høiby het al vier verkragtingsaanklagte ontken. Die hof het hom egter skuldig bevind aan die verkragting van twee vroue. Een voorval het in 2018 op die kroonprinslike landgoed Skaugum plaasgevind, terwyl die tweede in 2024 in Oslo plaasgevind het.
Hy is ook skuldig bevind aan die mishandeling van sy voormalige meisie, die Noorse beïnvloeder Nora Haukland, asook aan ernstige aanranding van ’n ander lewensmaat. Dit was by dié vrou se woonstel in die Frogner-woonbuurt van Oslo waar hy in Augustus 2024 in hegtenis geneem is.
Die hof het hom egter vrygespreek op twee ander verkragtingsaanklagte. Die een het betrekking gehad op ’n vrou wat hy in ’n hotel in Oslo ontmoet het, en die ander op ’n vrou wat hy tydens ’n vakansie op die Lofoten-eilande leer ken het.
Volgens sy regsverteenwoordigers is ’n appèl steeds ’n moontlikheid.
Die saak het ses vroue betrek. Net een van hulle was in die hof toe die uitspraak gelewer is. Sy het glo in trane uitgebars toe Høiby skuldig bevind is aan haar verkragting.
Aanklaers het aangevoer dat die vrou ná ’n partytjie in Oslo in Maart 2024 óf bewusteloos óf aan die slaap was toe die verkragting plaasgevind het. Die saak het grootliks gesteun op videomateriaal wat Høiby self opgeneem het.
Die vrou het tydens haar getuienis gesê sy was aan die slaap en sou nooit toestemming daarvoor gegee het nie. Die hof het saamgestem dat sy nie in staat was om weerstand te bied nie.
Al vier verkragtingsaanklagte het vroue betrek wat volgens die hof aan die slaap of nie in staat was om hulself te verdedig nie.
Die regters het ook bevind dat die vrou in die 2018-saak aan die slaap was tydens die voorval en eers verlede jaar uitgevind het dat Høiby die gebeurtenis verfilm het.
Benewens die verkragtingsake is Høiby ook skuldig bevind aan verskeie ander oortredings, waaronder mishandeling en roekelose optrede teenoor die sogenaamde “Frogner-vrou”.
Die hof het gelas dat hy altesaam 640 000 Noorse kroon skadevergoeding aan vier van die vroue moet betaal, insluitend Nora Haukland.
Sy regspan moet nou besluit of hulle teen die vierjaar-vonnis gaan appelleer. Die verdediging het vroeër aangevoer dat ’n ligter vonnis gepas sou wees, veral omdat Høiby reeds skuld erken het op sekere minder ernstige aanklagte, waaronder die vervoer van 3,5 kilogram dagga en verkeersverwante oortredings.
Die Noorse koningshuis het in ’n verklaring gesê: “Die saak is deur die howe aangehoor en ons het geen kommentaar op die uitslag nie.”
Waarnemers meen die saak het die openbare beeld van die koninklike familie skade berokken. Die situasie is verder bemoeilik deur onthullings voor die verhoor dat kroonprinses Mette-Marit vir drie jaar ’n vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein gehad het.
Tog meen sommige ontleders dat die fokus nou hoofsaaklik op Mette-Marit se gesondheidstoestand val.
Reputasiekenners beskryf die situasie as ’n ernstige krisis vir die koningshuis.
“Dit is ’n tragedie en ’n krisis vir enige familie,” het die kommunikasiekenner Peggy Simcic Brønn gesê.
Sy meen die beste uitweg vir die koninklike familie is om die hof se beslissing te aanvaar en daarna te probeer herstel van die skade wat die saak aan hul reputasie aangerig het.