Lex Libertas het oproepe deur senior ANC-verteenwoordigers vir strenger optrede teen Suid-Afrikaners en burgerlike organisasies wat hulle internasionaal oor Suid-Afrika uitspreek, skerp verwerp.
Die reaksie volg nadat Supra Mahumapelo, voorsitter van die parlementêre komitee oor internasionale betrekkinge, Lex Libertas en ander organisasies by name uitgesonder het. Hy het aangevoer dat hul betrokkenheid in Washington as verraad beskou kan word en het gevra vir wetgewing wat dit moontlik sou maak om burgerskap in sekere gevalle te ontneem.
Minister van Internasionale Betrekkinge Ronald Lamola het die breër oproep vir optrede teen mense en organisasies wat volgens die regering “waninligting” oor Suid-Afrika in die buiteland versprei, gesteun.
Dr. Ernst Roets, uitvoerende direkteur van Lex Libertas, sê die organisasie verwerp dié benadering en meen dat enige bewering van waninligting met feite en bewyse beantwoord behoort te word. Volgens hom het die regering nog nie aangedui watter spesifieke bewerings van Lex Libertas volgens hom vals is nie.
Roets sê dit is juis kommerwekkend dat voorstelle oor vervolging, beperkings en selfs burgerskap ter sprake kom wanneer burgerlike organisasies die regering internasionaal kritiseer. Lex Libertas het ook na die Grondwet verwys. Artikel 16 beskerm die reg om inligting en idees te ontvang en oor te dra, terwyl artikel 20 bepaal dat geen burger van burgerskap ontneem mag word nie.
Die organisasie sê die uitsprake volg kort ná sy White Cross Project in Washington, waar hy onder meer politieke aanhitsing, plaasaanvalle, rasgebaseerde wetgewing en eiendomsreg met Amerikaanse beleidsrolspelers bespreek het.
Volgens Roets wys die regering se reaksie dat internasionale kritiek op Suid-Afrika al hoe moeiliker geïgnoreer kan word. Hy sê Lex Libertas sal daarom nie sy internasionale betrokkenheid afskaal nie, maar eerder voortgaan om met beleidsinstellings, media, burgerlike organisasies en buitelandse regerings te skakel.
Volgens Roets sal die organisasie voortaan ook daarop wys dat senior Suid-Afrikaanse politici openlik praat oor moontlike vervolging, beperkings en maatreëls rakende burgerskap teen mense wat die regering se weergawe van sake bevraagteken.
Lex Libertas verwerp ook die siening dat internasionale kritiek op die regering noodwendig onpatrioties of vyandig teenoor Suid-Afrika is. Volgens die organisasie behoort kritiek op die regering en die bekendmaking van verifieerbare feite nie met verraad verwar te word nie.