Opwinding bou in Orania op terwyl die dorp gereedmaak om vir die eerste keer ooit die BCVO-Winterspele aan te bied. Vanjaar gaan die gewilde sportbyeenkoms honderde jong sportlui en duisende besoekers na die hart van die Noord-Kaap lok vir ’n naweek vol sport, gemeenskapsgees en feestelikheid.
Na verwagting sal sowat 3 000 mense gedurende die Winterspele in Orania saamtrek. Altesaam 914 rugby- en netbalspelers van BCVO-skole regoor Suid-Afrika gaan hul talente op die sportveld ten toon stel. Deelnemers reis vanaf Noord-Transvaal, Oos-Transvaal, Noordwes en die Noord-Kaap om teen mekaar mee te ding in wat beloof om een van die grootste BCVO-byeenkomste nóg te wees.
Die verrigtinge skop op Donderdag 25 Junie af wanneer deelnemers en ondersteuners in die dorp arriveer. As deel van die verwelkoming word ’n skouspelagtige valskermspringvertoning beplan wat die feestelikheid op gepaste wyse sal inlui.
Van Donderdag tot Saterdag sal die fokus op die sportgronde van Orania CVO-skool wees. Die splinternuwe rugbyvelde, wat vroeër vanjaar gevestig is, en die aangrensende netbalbane sal die middelpunt van die aksie vorm. Langs die sportgronde sal besoekers ook ’n verskeidenheid uitstallers, kosstalletjies en plaaslike produkte kan geniet.
Om die groot toestroming van besoekers te akkommodeer, word Orania se Eleksa-pendeldiens uitgebrei om vervoer tussen verskillende dele van die dorp en die sportterreine makliker en geriefliker te maak.
Die hoogtepunt van die naweek volg op Saterdag 27 Junie met die prysuitdeling, waar die beste spanne en spelers vereer sal word. Orania CVO-skool se slagorkes en pom-pomspan gaan die verrigtinge verder opkikker met ’n energieke vertoning ter viering van die wenners en die sukses van die byeenkoms.
Maar die sportvelde is nie die enigste plek waar voorbereidings in volle swang is nie. Die Opslaan Restaurant maak ook gereed vir wat moontlik die grootste restaurantbedryf in die dorp se geskiedenis kan wees. Vir net drie aande word die Orania Gemeenskapsaal omskep in die grootste tydelike restaurant wat Orania nog gesien het.
Altesaam 24 aansittafels met 192 sitplekke sal beskikbaar wees, terwyl meer as 1 000 gaste oor die drie aandetes verwag word. ’n Span van 20 personeellede gaan meer as ’n halwe ton vleis, saam met groot hoeveelhede aartappels en vars groente, voorberei, gaarmaak en bedien om die honger skares te verwelkom.
Volgens die organiseerders vul die tafels vinnig op en besoekers word aangemoedig om hul plek betyds te bespreek om teleurstelling te voorkom. Besprekings kan gemaak word by www.winterspele.co.za.
image 2
Hoewel die dorp vir die naweek bedrywig gaan wees, verwelkom Oraniërs die geleentheid met groot entoesiasme. Die Winterspele bied nie net ’n platform vir sportuitnemendheid nie, maar ook ’n geleentheid om nuwe vriendskappe te smee, gemeenskappe bymekaar te bring en Orania se gasvryheid aan besoekers van regoor die land te wys.