STELLENBOSCH – ’n Bejaarde egpaar is Vrydagaand ernstig beseer toe drie gewapende mans met klapmusse hulle tydens ’n huisroof op die Neethlingshof-wynlandgoed in Vlottenburg buite Stellenbosch oorval en herhaaldelik met koevoete aangerand het.
Die egpaar was omstreeks 21:00 buite hul woning besig om te braai toe die aanvallers toegeslaan het.
Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat drie onbekende mans die egpaar aangeval, die sleutels van hul kluis geëis en vuurwapens uit die woning gesteel het voordat hulle in ’n wit Toyota Corolla van die toneel gevlug het.
Volgens mense na aan die familie is die man herhaaldelik met ’n koevoet oor die kop geslaan. Hy het na bewering ’n skedelbreuk opgedoen en ’n noodoperasie ondergaan.
Sy vrou het glo ook ’n ernstige kopbesering opgedoen toe sy haar man probeer beskerm en die aanvallers probeer afweer het.
Die egpaar is na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof met verswarende omstandighede. Enigiemand met inligting word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
Inwoners waarsku oor patroon van aanvalle
Die aanval het opnuut kommer laat ontstaan oor gewelddadige rooftogte op afgeleë plaashuise en wynlandgoedere in die Stellenbosch-omgewing.
Colin Farao, wat in Vlottenburg woon en met plaaslike inwoners skakel, sê minstens vyf gewelddadige rooftogte is volgens die gemeenskap die afgelope drie maande in die gebied aangemeld.
Volgens hom is die aanval op Neethlingshof nie ’n geïsoleerde voorval nie en kom soortgelyke rooftogte ook elders in die Kaapse Wynlande voor.
“Dit gebeur nie net in Stellenbosch nie. Dit gebeur wyd oor die Wynlande,” het Farao gesê.
Farao sê die jongste voorval is moontlik die vierde of vyfde soortgelyke aanval in die Vlottenburg-omgewing in ’n betreklik kort tydperk.
Volgens Farao word afgeleë huise doelbewus geteiken, veral wonings wat ver van hoofpaaie en ander huise geleë is.
“Wat ons tot dusver gesien het, is dat plaashuise en huise op landgoedere geteiken word. Dit is losstaande wonings wat verder agter op die plase geleë is,” het hy gesê.
Hy meen die aanvallers se hoofdoel is om juweliersware, kontant en vuurwapens te buit.
Volgens Farao blyk die aanvalle vooraf beplan te word. Hy sê verdagtes ry vermoedelik vooraf deur die gebied, hou inwoners se bewegings dop en wag vir ’n geskikte geleentheid om toe te slaan.
“Hierdie mans ry op die plase rond en weet wat daar gebeur. Hulle kyk en wag,” het hy gesê.
In die geval van die Neethlingshof-aanval het die egpaar volgens Farao bloot hul Vrydagaand buite geniet toe die drie gewapende mans opgedaag het.
“Wanneer so iets gebeur, skop jou instink in en probeer jy terugveg,” het Farao gesê.
Hy sê die geweld waarmee die egpaar aangeval is, het inwoners diep geskok. Volgens hom wek die brutaliteit van die aanval kommer oor die geweld waarmee slagoffers tydens soortgelyke rooftogte geteiken word.