Six Flags Magic Mountain in Kalifornië het sy bekende X2-tuimeltrein (“roller coaster”) permanent gesluit ná verskeie regsgedinge waarin beweer word dat die rit ernstige breinbeserings veroorsaak het.
Die rit was sedert 12 Julie 2024 gesluit nadat twee vroue minder as ’n week uitmekaar ná ritte op X2 hospitaal toe gehaas moes word.
Een van hulle, die 25-jarige Naomi Greer-Wilkinson, het kort ná die rit inmekaargesak. Dokters het ernstige bloeding gevind en sy moes ’n noodbreinoperasie ondergaan. Volgens haar familie bly sy in ’n vegetatiewe toestand, kan sy nie praat of op haar eie asemhaal nie.
Prokureurs wat beseerde ryers verteenwoordig, sê meer as 100 mense het in die afgelope twee jaar beweer dat hulle breinbeserings op die X2 opgedoen het. Drie nuwe regsgedinge oor traumatiese breinbeserings is ook onlangs ingedien.
Die X2-tuimeltrein is bekend vir sy sitplekke wat 360 grade draai terwyl die waentjies teen snelhede van tot sowat 122 km/h beweeg. Die rit het in 2002 as X geopen en is in 2008 as X2 heropen met nuwe treine en spesiale effekte.
Six Flags Magic Mountain se president, Brian Oerding, sê die rit het deur die jare herhaaldelik veiligheidstoetse geslaag, maar dat die park besluit het om dit permanent te sluit omdat besoekers se vertroue geraak is. Meer as 16 miljoen mense het sedert 2008 op X2 gery.
Die sluiting volg ook kort nadat Six Flags en S&S Worldwide ’n skikking bereik het met die familie van Christopher Hawley (22), wat in 2022 gesterf het nadat hy op X2 gery het. Hy is ná die rit met ernstige kopbeserings hospitaal toe geneem en is die volgende dag dood. Die lykskouer het sy dood aan stomp koptrauma toegeskryf.
’n Afsonderlike saak waarin Sheila Katerelos (56) beweer dat sy in 2020 ’n traumatiese breinbesering op die rit opgedoen het, sal na verwagting in 2027 verhoor word.
Die Kaliforniese afdeling vir beroepsveiligheid en -gesondheid ondersoek intussen steeds die rit en die beserings wat in Julie 2024 aangemeld is.