Oekraïne se ambassadeur in Pretoria het Suid-Afrikaners gewaarsku om hulself nie by Rusland se oorlog in Oekraïne te laat intrek nie, nadat 17 jong Suid-Afrikaanse mans glo deur huursoldaatgroepe mislei is. Dr. Olexander Scherba het in ’n onderhoud met AFP gesê die mans, tussen 20 en 39 jaar oud, is onder die voorwendsel van wettige sekuriteitswerk na Rusland gelok, maar uiteindelik gedwing om aan gevegte deel te neem. Pres. Cyril Ramaphosa het bevestig dat die regering die voorval ondersoek en die uitbuiting van jong Suid-Afrikaners deur buitelandse militêre groepe veroordeel, te midde van bewerings dat sommige van die mans deur persone met bande aan die uMkhonto we Sizwe-party gewerf is vir sogenaamde “werksgeleenthede met Russiese veiligheidsopleiding”.
Intussen het Oekraïne se minister van buitelandse sake, Andrij Sibiha, onthul dat meer as 1 400 burgers uit 36 Afrikalande reeds in Russiese geledere geïdentifiseer is. Scherba waarsku dat Rusland mense deur misleidende werksaanbiedings in die konflik intrek, ondanks die feit dat dit onwettig is vir Suid-Afrikaners om by buitelandse leërs aan te sluit sonder regeringstoestemming.
Hy sê hy ontvang reeds noodboodskappe van families wie se seuns na die voorste linies gelok is, en beskryf hul situasie as desperaat. Volgens hom is dit ’n oorlog waarmee Afrika niks te doen het nie: “Dit is nie julle oorlog nie; dit is nie die oorlog van enige ordentlike persoon op hierdie planeet nie.” Hy beskryf die konflik as ’n koloniale oorlog en noem dit “waansin” dat Afrikane mislei word om in ’n koloniale oorlog teen ’n vry land te veg. Scherba meen ook dat die betrokkenheid van Suid-Afrikaanse politici die situasie nóg meer onseker maak.