~Deur Gideon Grom
Die VF Plus moet asseblief saam met sy volgende verkiesingsplakkaat ’n kaart uitreik. Ek wil weet waar die volkstaat lê. Tot dusver kry ek toesprake, beginsels en nou ’n kandidaat in Gugulethu. Die grenspaaltjies bly egter soek. Dalk is hulle vir die veldtog uitgeleen om die plakkate aan vas te maak.
Volgens EWN staan Mark Mutlane van Gugulethu as die VF Plus se kandidaat in wyk 41. Hy vind aanklank by die beskerming van taal en kultuur en verdedig die beginsel van selfbeskikking. Goed. Maar nou wil ek by die party hoor presies watter bestemming op hierdie politieke bus se voorruit staan. Want ek het vir ’n volkstaat kaartjies gekoop, en die bestuurder praat al hoe meer soos iemand wat bloot nog passasiers nodig het.
Laat ek my belang verklaar: ek ondersteun ’n Afrikaner-volkstaat. Eie skole, eie instellings, eie verantwoordelikheid en uiteindelik eie regering. Ek wil weet wie die besluite neem en wie daarvoor betaal. ’n Volkstaat behoort ’n plek te wees waar ons die gevolge van ons eie besluite dra.
Nou sit die VF Plus met ’n bemarkingsvraag wat hy self moet beantwoord. Wat word van sy belofte wanneer hy mense buite sy tradisionele gemeenskap werf? Is hulle bondgenote vir verskillende gemeenskappe se selfbeskikking? Bou almal saam aan dieselfde staat? Of beteken selfbeskikking deesdae dat elkeen self kan besluit om VF Plus te stem, waarna die party verder sal beskik?
’n Mens kan natuurlik die hele saak met die politieke kostuumkas probeer oplos. Haal die wit verf, vellies en braaitang. Twee lae onderlaag, ’n kort kursus oor die korrekte omgang met kole, en die bemarkingsafdeling verklaar die kultuurvraag afgehandel. Dis omtrent hoe belaglik dit raak wanneer ’n party ’n volk tot ’n voorkoms en ’n paar bykomstighede probeer reduseer. ’n Verfkwas kan ’n muur verander. Hy kan nie ’n staatkundige beginsel verduidelik nie.
Ek sou eerder die party se beleid wou oopmaak as die verfblik. Sy eie manifes erken selfbeskikking vir verskillende gemeenskappe en beskryf gemeenskapsrade as ’n saak van keuse, eerder as ’n eenvoudige rasseverdeling. Dit is ’n antwoord wat hulle gerus hardop kan gee. Dan moet hulle ook verduidelik hoe daardie model by die Afrikaner se territoriale selfbeskikking uitkom. Die kieser behoort die plan te kan volg sonder ’n tolk wat ná elke verkiesing ’n nuwe betekenis aan dieselfde belofte gee.
Want daar is niks vreemds daaraan dat iemand ’n ander gemeenskap se vryheid steun nie. ’n Buurman kan jou reg op jou eie huis verdedig sonder om sy bed in jou gang neer te sit. Hy kan ook sy eie huis wil bou. Die beginsel is verstaanbaar. Dis die party se argitektuur wat ek wil sien. Tot dusver is die ontvangsarea indrukwekkend; oor die fondamente moet ons glo later praat.
En dan is daar die ou versoeking van die gerieflike volkstaat: ons regeer onsself, maar iemand anders moet asseblief die tuin doen. As die party se denkbeeldige model ruimte vir ’n bondgenoot op die verkiesingsverhoog het, maar net vir ’n goedkoop werker by die agterdeur, het ons ’n ernstige probleem. Dan is die groot vryheidsprojek bloot ’n woonbuurt met ’n vlagpaal en ’n personeelhek.
Ek vra dit as ’n beginseltoets. Selfdoen beteken dat jy self werk. Dit beteken nie dat jy ’n ander man se arbeid bestel en jou eie onafhanklikheid bewonder terwyl hy jou geut skoonmaak nie. Die stoerste toespraak oor volksvryheid help min as die spreker nog wag dat iemand anders sy stoep vee. ’n Volk wat homself wil regeer, kan seker met sy eie besem begin.
Mutlane hoef ook nie sy taal en kultuur by die partykantoor af te gee om die Afrikaner s’n te respekteer nie. Juis daar lê die toets vir die VF Plus: kan hy duidelik sê wat hy vir elke gemeenskap nastreef, en hoe hy dit gaan bereik? Of word almal onder dieselfde sambreel ingetrek omdat die verkiesingsreën op pad is, met die moeilike gesprek oor die huisvesting tot ná stemdag uitgestel?
Ek gun ’n party sy uitbreiding. Ek gun hom nie die reg om ’n spesifieke ideaal so lank uit te rek dat dit uiteindelik om elke moontlike kieser pas en niks meer beteken nie. Vertel ons waar die grond is, wat die bevoegdhede sal wees en watter werk reeds gedoen word. Gee die volkstaatondersteuner iets stewiger as ’n foto waarop almal baie tevrede lyk.
Mark Mutlane kan self besluit by wie hy aansluit. Die VF Plus moet besluit wat hy bou.
En as die enigste antwoord op daardie vraag ’n blik wit verf en ’n paar vellies is, sit asseblief die verf neer en haal die bouplan uit.