Aanlyn dobbel het die afgelope paar jaar sterk in Suid-Afrika gegroei, terwyl al meer huishoudings volgens nuwe navorsing die finansiële gevolge daarvan dra.
’n Nuwe verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wys dat aanlyn dobbel tussen 2021 en 2025 met 390% gegroei het. Die groter toeganklikheid van dobbelplatforms op selfone en die groot hoeveelheid aanlyn dobbeladvertensies word as belangrike drywers van dié groei uitgewys.
In die 2024-’25-boekjaar is sowat R1,5 biljoen in die totale dobbelbedryf verwed. Byna driekwart daarvan was aanlyn. Volgens die SNI-verslag het dobbeloperateurs ná uitbetalings sowat R74,5 miljard in bruto dobbelinkomste oorgehou.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI en opsteller van die verslag, sê die syfers wys op die toenemende houvas wat dobbel op Suid-Afrikaners se geld kry. “Agter hierdie syfers is gewone Suid-Afrikaners wat hul swaarverdiende geld verloor, huishoudings wat reeds sukkel om kop bo water te hou en gesinne wat die gevolge moet dra,” sê Du Buisson.
Die verslag verwys ook na voorlopige navorsing van die Nasionale Dobbelraad wat daarop dui dat mense toenemend roekelose lenings aangaan en selfs maatskaplike toelaes gebruik om te dobbel.
Internasionale navorsing wat in die verslag bespreek word, verbind aanlyn dobbel met ’n twee tot vier keer groter waarskynlikheid van probleemdobbel as ander vorme van dobbel.
Volgens Du Buisson maak selfone dit moontlik om binne sekondes toegang tot dobbelplatforms te kry. “Die casino is nie meer êrens in ’n gebou waarheen jy moet ry nie; dit is in jou sak. Jy kan enige tyd, enige plek en met enkele drukke op jou selfoon geld verwed,” sê hy.
Hy waarsku ook dat dobbel toenemend as ’n geleentheid vir ekstra inkomste voorgehou word, wat mense wat reeds finansieel swaarkry besonder kwesbaar kan maak. “Dobbel is nie ’n manier om inkomste te verdien nie. Dit kan juis die geld vernietig waarvan ’n gesin afhanklik is,” sê Du Buisson.
Solidariteit sê die kwessie raak werkende mense direk omdat huishoudelike geld toenemend aan dobbel bestee kan word ten koste van noodsaaklike uitgawes.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê probleemdobbel raak dikwels die hele gesin. “Wanneer geld wat vir kos, skoolgeld, huur of elektrisiteit bedoel is, weggedobbel word, is dit nie net die persoon wat die weddenskap geplaas het wat verloor nie,” sê hy. Volgens Noëth kan die gevolge ook kinders, huwelike, gesinsverhoudings en gemeenskappe raak.
Solidariteit en Helpende Hand vra nou vir strenger regulering van die aanlyn dobbelbedryf. Dit sluit strenger beheer oor dobbeladvertensies, beter optrede teen onwettige aanlyn casino’s, groter beskerming van jong mense en ander kwesbare verbruikers, en doeltreffender regulering van aanlyn dobbelplatforms in.