Bewerings dat die Voortrekkermonument in Pretoria ’n “heidentempel” of selfs ’n Vrymesselaarstruktuur sou wees, doen gereeld die rondte op sosiale media. Volgens beskikbare historiese bronne is daar egter geen bewyse wat dié aantygings staaf nie.
Die Monument is tussen 1937 en 1949 opgerig nadat die Sentrale Volksmonumentekomitee in 1930 tot stand gekom het. Die argitek, Gerard Moerdyk, het dit as ’n vryheidsmonument ontwerp wat die Voortrekkers se geskiedenis en hul strewe na selfbeskikking moes verewig. Dit was nie bedoel as ’n tempel of okkultiese struktuur nie. Die oorspronklike argitekplanne is in bewaring by die Erfenisstigting en geen vrymesselaar simbool word uitgelig nie.
Kritiek fokus dikwels op die jaarlikse sonstraal wat op 16 Desember om 12:00 op die senotaaf val, asook op sekere geometriese patrone in die gebou. Argitektuurkenners wys egter daarop dat hierdie elemente kenmerkend is van die Art Deco-styl van die vroeë twintigste eeu. Moerdyk het tydens studiereise inspirasie geput uit verskeie internasionale voorbeelde, onder meer in Rome, Egipte en Duitsland, om ’n monument met ’n unieke Afrika-karakter te skep.
Hoewel een van die Europese monumente wat hy bestudeer het, die Völkerschlachtdenkmal in Leipzig, bande met ’n argitek met Vrymesselaar-verbintenisse gehad het, is daar geen aanduiding dat Moerdyk self ’n Vrymesselaar was of sulke simboliek doelbewus ingewerk het nie. Bronne beskryf hom as ’n belydende Christen en Calvinis.
Teenoor die beskuldigings van “duistere rituele” beklemtoon ondersteuners van die Monument juis die geloofsgrondslag daarvan. Die Voortrekkermonument word deur sy direksie en baie besoekers beskou as ’n openbare getuienis van die Christelike oortuiging wat die Voortrekkers en hul nageslag gedra het – naamlik die belydenis dat Jesus Christus Here is en dat hul toekoms op dié geloof gegrond is.