Orania maak hom gereed vir nog ’n naweek van groot Afrikanersport wanneer die 2026 Bokkietoernooi van 4 tot 6 April plaasvind.
Die toernooi, wat reeds ’n gevestigde instelling in Orania geword het, is die o/25-weergawe van die bekende Bokkieweek en het ten doel om sportgeleenthede vir jong Afrikaners te bevorder en uit te bou.
Deelnemers sal meeding in rugby, netbal en hokkie, met spanne van regoor Suid-Afrika wat tans hul voorbereidings finaliseer om na Orania te reis.
Vanjaar se toernooi word op die Orania CVO-skool se nuwe sportgronde aangebied. Hierdie fasiliteite is onlangs voltooi as deel van ’n groot gemeenskapsprojek waaraan boere, leerlinge, onderwysers, ouers en vrywilligers saamgewerk het. Dit sal die eerste groot sportbyeenkoms wees wat op dié velde plaasvind.
Die Bokkietoernooi bied nie net sport van hoë gehalte nie, maar ook ’n breër kultuurervaring. ’n Volledige program word vir die naweek beplan, wat besoekers die geleentheid bied om deel te wees van die gemeenskapslewe in Orania.
Oraniërs en besoekers word uitgenooi om die naweek by te woon, die spanne te ondersteun en saam te kuier. Daar word met groot verwagting uitgesien na ’n opwindende naweek waar Afrikaner-sporttalent op sy beste ten toon gestel sal word.