Die Iranse Revolusionêre Wag sê hulle het Donderdag ’n Amerikaanse militêre basis aangeval in reaksie op Amerikaanse lugaanvalle op suidelike Iran.
Volgens Iran se staatsuitsaaier, IRIB, het die aanval gevolg nadat die Amerikaanse weermag vroeër Donderdag ’n gebied naby Bandar Abbas-lughawe met lugaanvalle geteiken het.
Iran het nie bekend gemaak waar die Amerikaanse basis geleë is nie, maar Koeweit het bevestig dat hulle Donderdagoggend op missiel- en hommeltuigaanvalle gereageer het.
Die VSA het nuwe aanvalle op suidelike Iran uitgevoer nadat president Donald Trump gedreig het om die konflik finaal af te handel indien Iran nie tot ’n vredesooreenkoms instem nie.
Iranse media berig dat drie harde ontploffings vroeg Donderdagoggend in die hawestad Bandar Abbas gehoor is. Dit volg op Amerikaanse aanvalle vroeër die week wat die gespanne vredesonderhandelinge verder bemoeilik het.
’n Amerikaanse amptenaar sê Amerikaanse magte het vier Iranse aanvalshommeltuie naby die Straat van Hormuz afgeskiet omdat dit ’n bedreiging ingehou het.
Volgens die amptenaar het Amerikaanse magte ook ’n beheerstasie in Bandar Abbas aangeval wat glo gereed gemaak het om nog ’n hommeltuig te lanseer.
Iran het Woensdag gesê die kans op ’n nuwe oorlog is klein, maar dat hul weermag gereed bly indien hulle weer aangeval word.
Die spanning plaas verdere druk op die onderhandelinge om die oorlog, wat op 28 Februarie begin het ná Amerikaanse en Israeliese aanvalle op Iran, formeel te beëindig.
Trump het Woensdag gesê Iran wil graag ’n ooreenkoms bereik, maar dat die VSA nog nie tevrede is met die huidige situasie nie.
Hy het gewaarsku dat Amerika die konflik sal “klaarmaak” indien ’n ooreenkoms nie bereik word nie.
Een van die grootste struikelblokke in die onderhandelinge bly die Straat van Hormuz, ’n belangrike seevaartroete waardeur groot hoeveelhede olie en gas vervoer word.
Iran het die seestraat grootliks gesluit, wat wêreldwye energievoorrade onder druk plaas.
Die Revolusionêre Wag se vloot het Woensdag gesê slegs skepe wat Iran se opdragte gehoorsaam deur die Straat van Hormuz sal mag beweeg.
Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die VSA glo ’n ooreenkoms is steeds moontlik, maar dat die seestraat weer oopgemaak sal word.
Trump het intussen ook Oman gewaarsku nadat daar berigte was dat Iran en Oman moontlik tydelik beheer oor die seestraat kan deel.
Hy het gesê die Straat van Hormuz is internasionale waters en dat Oman soos ander lande sal moet optree, anders sal die VSA ingryp.
Iran en die VSA dreig mekaar reeds weke lank terwyl Pakistan as bemiddelaar tussen die twee lande optree.
Geen van die twee lande toon egter tekens dat hulle bereid is om toegewings te maak oor Iran se kernprogram of beheer oor die Straat van Hormuz nie.
Iran dring ook daarop aan dat enige vredesooreenkoms Libanon moet insluit, waar gevegte tussen Israel en Hezbollah steeds voortduur ondanks ’n skietstilstand wat op 17 April ingestel is.
Die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, het vroeër belowe om Hezbollah te “verpletter”, terwyl Israel se weermag sê hul operasies teen die groep verder verskerp word.
Israel het ook nuwe ontruimingsbevele aan inwoners van groot dele van suidelike Libanon uitgereik.
Die spanning in die Midde-Ooste het oliepryse weer laat styg nadat hoop op ’n moontlike vredesooreenkoms vroeër die week pryse laat daal het.
Kenners waarsku dat langdurige ontwrigting in die Straat van Hormuz energiepryse wêreldwyd verder kan verhoog en inflasie kan vererger.
Iran het hierdie week begin om internettoegang gedeeltelik te herstel ná ’n afsluiting van drie maande.
Inwoners van Teheran sê hulle is bly dat hulle weer toegang tot aanlyn dienste het, maar baie vrees dat die oorlog enige oomblik weer kan uitbreek.
“Niemand weet wat volgende gaan gebeur nie,” het een inwoner gesê. “Elke aand wonder ons of daar weer missielaanvalle gaan wees.”