SEATTLE – ‘n Wasbeer met ‘n ongewone voorkoms het binne enkele dae die internet in sy ban gebring nadat ‘n video van hom miljoene kere gekyk is en hom in die jongste wêreldwye internetverskynsel omskep het.
Die wasbeer, wat deur internetgebruikers “Jimothy” gedoop is, is die eerste keer in Seattle in die Amerikaanse deelstaat Washington afgeneem waar hy met ‘n kenmerkende, waggelende draf oor ‘n sypaadjie en teen trappe op beweeg.
Die video, wat deur Kiana Hall op Instagram gedeel is, is reeds meer as agt miljoen keer gekyk. Sy het die dier in haar plasing beskryf as “Jimothy the raccoon with short spine syndrome”.
Hoewel dit nie bevestig is dat Jimothy se ongewone voorkoms deur kort-ruggraatsindroom veroorsaak word nie, vermoed baie internetgebruikers dat dit wel die geval is.
Die wasbeer se gewildheid het vinnig versprei en talle internetgebruikers sê sy verhaal vestig ook die aandag op mense wat met aangebore ruggraatafwykings leef.
Volgens dr. Idil Galip, ‘n navorser in digitale kultuur, sorg die uitbreiding van stede en die toename in voedselafval daarvoor dat mense al hoe meer met wasbere in aanraking kom.
“Meer ontmoetings beteken meer video’s van wasbere wat snaaks optree, en op vandag se vinnig bewegende sosialemediaplatforms kan sulke beeldmateriaal byna onmiddellik ‘n internetgier word,” sê Galip.
Jimothy se gewildheid het intussen verder as sosiale media versprei. ‘n Plaaslike kunstenaar het reeds ‘n muurskildery van hom in Ballard, die woonbuurt waar hy die eerste keer opgemerk is, geskep.
Die amptelike sosialemediarekeninge van die Withuis het ook op die gier ingespring deur ‘n internetprent van Jimothy met ‘n rooi pet te deel waarop die woorde “Trump was right about everything” verskyn.
Jimothy het ook sy eie Google-animasie gekry wanneer na sy naam gesoek word, internetgebruikers het selfs sogenaamde “meme-munte” na hom vernoem, en sal volgens berigte in die fiktiewe wêreld Azeroth van die aanlynrolspel World of Warcraft verskyn. Volgens die amptelike Minecraft-rekening het Jimothy ook reeds sy verskyning in dié speletjie gemaak.
Plaaslike owerhede in Washington waarsku egter mense om nie die wasbeer te probeer aanraak, voer of vashou nie, aangesien dit sowel die dier as mense in gevaar kan stel.
“Solank mense hom nie probeer streel, vashou of voer nie, hou Jimothy geen gevaar vir die publiek in nie,” het die deelstaat se gesondheidsdepartement op sosiale media gesê.