LONDEN – Die Walliese sangeres Bonnie Tyler, wie se kenmerkende rasperige stem wêreldwye treffers soos Total Eclipse of the Heart en Holding Out for a Hero opgelewer het, is op 75-jarige ouderdom oorlede.
Volgens ‘n verklaring op haar amptelike Facebook-blad is Tyler onverwags in ‘n hospitaal in Portugal oorlede waar sy vir ‘n siekte behandel is.
“Bonnie se familie en span is diep bedroef om aan te kondig dat Bonnie gisteraand onverwags in ‘n hospitaal in Portugal oorlede is as gevolg van die siekte waarvoor sy behandeling ontvang het,” lui die verklaring.
Tyler het in Mei ‘n noodoperasie aan haar ingewande in ‘n hospitaal naby Faro ondergaan. Sy is daarna in ‘n kunsmatige koma geplaas om haar herstel te bevorder. Hoewel sy later uit die koma gehaal is, het haar verteenwoordiger gesê sy was steeds kritiek siek en in intensiewe sorg.
Tyler, wat as Gaynor Hopkins in die dorpie Skewen naby Swansea gebore is, het haar loopbaan begin deur treffers van ander kunstenaars in plaaslike klubs te sing terwyl sy in ‘n kruidenierswinkel gewerk het. Nadat ‘n talentsoeker haar ontdek het, het sy ‘n platekontrak met RCA onderteken en die verhoognaam Bonnie Tyler aangeneem.
Haar deurbraak het in 1977 gekom met It’s a Heartache, maar dit was Total Eclipse of the Heart in 1983 wat haar internasionale roem besorg het. Die liedjie het die trefferslyste in onder meer Brittanje, die Verenigde State, Australië, Kanada en Ierland gehaal en word steeds as een van die bekendste kragballades beskou.
Sy het die sukses opgevolg met treffers soos Holding Out for a Hero, wat deel van die rolprent Footloose se klankbaan was, asook Here She Comes, wat vir haar ‘n Grammy-benoeming besorg het.
Hoewel haar gewildheid in Brittanje en die Verenigde State later afgeneem het, het Tyler ‘n groot aanhang in Wes-Europa behou. Haar album Bitterblue uit 1991 het in verskeie lande boaan die trefferslyste geëindig, terwyl ‘n tweetalige weergawe van Total Eclipse of the Heart saam met die Franse sangeres Kareen Antonn in 2003 vir tien weke die Franse trefferslys aangevoer het.
In 2013 het sy die Verenigde Koninkryk by die Eurovision-sangkompetisie verteenwoordig met Believe in Me en 19de geëindig.
Haar laaste ateljeealbum, The Best Is Yet to Come, is in 2021 uitgereik. In 2025 het sy weer Total Eclipse of the Heart saam met die Franse DJ David Guetta en Hypaton vir die enkelsnit Together aangepak.
Die Britse eerste minister, sir Keir Starmer, het hulde aan Tyler gebring en haar beskryf as een van Brittanje se grootste opnamekunstenaars.
“Sy laat ‘n musiekerfenis agter wat steeds mense se lewens raak, dansvloere vul en karaoke-aande laat voortleef,” het ‘n woordvoerder namens Starmer gesê.
Tyler was sedert 1973 met die eiendomsontwikkelaar Robert Sullivan getroud. Die egpaar het geen kinders gehad nie.