~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op: Tim Keller se lesse vir ’n groeiende Orania – Bepeins
’n Groter dorp is nie bloot ’n klein dorpie met meer huise en mense nie. Dit is die les wat Timothy Keller beklemtoon het in Leadership and Church Size Dynamics: How Strategy Changes with Growth, wat hy aanvanklik in 2006 geskryf het en wat later deur Redeemer City to City uitgegee is. Keller het oor gemeentes geskryf. Hy het sterk gesteun op die kerkkonsultant Lyle E. Schaller se boek The Very Large Church. Dieselfde patroon en sosiale dinamika kom egter ook in nedersettings voor. Robin Dunbar se werk oor die sosiale brein, asook Raoul Naroll se 1956-opstel A Preliminary Index of Social Development wat in American Anthropologist gepubliseer is, help om te verduidelik waarom.
Orania bestaan en leef daarom ook binne hierdie verskynsel. Plaaslike sensussyfers plaas die dorp se inwonertal in 2025 op ongeveer 2 900, met meer as 1 200 huishoudings wat oor verskeie woonbuurte versprei is. Wanneer ons dan oor ‘n dorp/stad met 10 000 inwoners praat, praat ons eintlike van ‘n ander soort plek as die Orania waarin ons nou woon. Die vraag is nie óf groei die kultuur gaan verander nie. Dit sal. Die vraag is of Orania se leiers en inwoners saam met die groei gaan verander en aanpassings maak, en of ons gaan terugverlang na die intimiteit van ’n klein plattelandse dorpie wat nie meer bestaan nie.
Grootte is ook ’n kultuur
Keller se uitgangspunt is reguit. Grootte verander hoe besluite geneem word, hoe verhoudings werk, hoe mense leiers beoordeel en selfs wat “omgee” beteken. Ons is bewus daarvan dat verskille tussen gemeentes aan verskillende teologiese standpunte toegeskryf kan word. Ons verstaan ook dat verskille tussen dorpe aan politieke verskille toegeskryf kan word. Albei maak saak. Maar, grootte het dikwels ‘n groter impak op die verskille as wat ons geneig is om te dink.
Mense huldig ook morele standpunte oor die “ideale” grootte wat hulle verkies. In ’n gemeente van 2 000 wil sommige lidmate steeds hê die senior leraar moet die telefoon beantwoord asof hulle deel is van ’n kudde van 150. In ’n groeiende dorp klink dieselfde verwagting só: as ek nie net kan instap en dit met iemand wat ek ken kan uitsorteer nie, het die plek koud en onpersoonlik geword. Soms is daardie klagte billik, maar dikwels is dit bloot ‘n oorblyfsel van gister se “grootte kultuur” wat nie met die effek van groeiende getalle tred gehou het nie.
Schaller se punt, wat Keller oorneem, is dat ’n groot instelling nie ’n klein instelling met meer lede is nie. Dit is eintlik ’n ander gedragsomgewing. ’n Orania met 10 000 inwoners sal nie soos ‘n Orania met 3,000 inwoners wees met net meer strate en huise nie. Dit sal ’n klein stad wees wat uit baie kleiner wêrelde bestaan, maar almal onder een naam.
Keller waarsku daarteen om ’n morele saak vir ‘n spesifieke grootte te probeer voer. Elke grootte kan dinge doen wat die ander nie kan nie. Elke grootte het ook swakhede wat teengewerk moet word. ’n Klein plek kan mense baie naby aan mekaar hou en steeds deur een prominente ongelukkige familie gyselaar gehou word. ’n Groot plek kan vreemdelinge goed bedien en tog tred verloor met die eensames. Groei is nie noodwendig volwassenheid nie. Om klein te bly is ook nie noodwendig getrouheid aan beginsels nie. Ons taak is om getrou te leef binne die grootte wat ons op daardie stadium is.
Van gesigte ken na kategorieë herken
Robin Dunbar het nie ’n magiese wet ontdek wat sê: “Jy mag net 150 mense ken” nie. Hy het organiese steunkringe beskryf. Enige mens kan net ’n handjievol mense in sy/haar binnekring hê wat jy in ’n krisis kan bystaan; ongeveer vyftien hegte vriende; ongeveer vyftig mense met wie jy ’n braai kan geniet; en ongeveer 150 betekenisvolle kontakte – mense wat jy by ’n begrafnis sal kan plaas sonder dat hulle ’n naamkaartjie nodig het. Daarna kom kennisse, dan gesigte waarvan jy die naam kan onthou, en uiteindelik gesigte wat jy bloot herken.
Hierdie kringe bestaan omdat tyd beperk is. Om goeie vriendskappe in stand te hou verg ure. Die buitenste groep van 150 kry ’n groet en miskien een gesprek per jaar. Sosiale media het dit nie verander nie. Dit het bloot die wolk van swakker bande en name bo die werklike sosiale netwerk verdik.
By 400 of 800 inwoners kan ’n vasberade kern nog steeds voel asof “almal almal ken”. Dit is reeds by 3 000 inwoners nie meer die geval nie. By 10 000 inwoners sal dit ’n storie wees wat vroeë intrekkers vertel. ’n Inwoner sal steeds sy of haar 150 betekenisvolle kontakte hê. Die res van die dorp sal uit kategorieë bestaan: die nuwe gesin waarvan die pa by BKO werk, iemand van Kleingeluk, of ’n vrou wat by die Dorpsraad werk. Bekendheid sal nie verdwyn nie; dit sal in kleiner kringe saamtrek. Anonimiteit sal nie vyandigheid beteken nie. Dit sal beteken dat die meeste mense by wie jy verbyry, nie deel van jou aktiewe sosiale netwerk sal wees nie.
Raoul Naroll voeg die burgerlike kant van dieselfde feit by. In A Preliminary Index of Social Development het hy gemeenskappe vergelyk volgens die grootte van hul grootste nedersetting en ook hoe gespesialiseerd hul werk en regering geword het. Sy steekproef het aangedui dat ’n nedersetting, sodra dit ongeveer 500 mense oorskry, gesaghebbende amptenare benodig – mense wie se reg om besluite te neem in ’n formele rol lê en nie net in familieverbintenisse of persoonlike reputasie nie. Bo ongeveer 1 000 mense het ’n gemeenskap gewoonlik ’n gespesialiseerde liggaam vir orde nodig, en nie net ’n gerespekteerde persoonlikheid nie. Orania as geheel is reeds verby albei hierdie grense. Verskeie woonbuurte is naby of verby die eerste een. Tienduisend mense sou daarom eerder as ’n “federasie” van sulke woonbuurte beskou moet word, eerder as bloot ’n groter dorp.
Behoort moet kleiner word namate die dorp groter word
Keller het ’n verskuiwing in die “primêre kring van behoort” raakgesien. In ’n baie klein gemeente is die hele gemeente die kring. In ’n mediumgrootte gemeente word dit die spesifieke bediening waarby ’n lidmaat betrokke is. In ’n groot gemeente word dit die klein groep van tien of vyftien. As daardie kleiner kringe swak is, voel mense dat die groot liggaam nie omgee nie, selfs wanneer die prediking baie goed is.
’n Dorp volg dieselfde patroon. Op dorpsvlak is die straat, die winkel en die Sondagbyeenkoms die gemeenskap. By ’n paar duisend inwoners lê behoort in die huishouding, die gemeente, die werkplek, die sportspan en ’n kind se skoolklas. By 10 000 word hierdie eenhede nog belangriker. Die dorp as geheel kan steeds ’n tuiste van betekenis wees – ’n gedeelde verhaal, taal, kultuur, kalender en werksetiek. Dit kan egter nie meer die groep wees waarin elke persoon aan elke ander persoon bekend is nie.
Dit is waarom die stelling “ons moet soos een groot familie wees” ’n groeihindernis kan word. Keller het gesê dat ’n gemeente wat die grens van 200 oorsteek, die onuitgesproke reël moet bevraagteken dat elke lidmaat ’n persoonlike aangesig-tot-aangesig-verhouding met elke ander lidmaat moet hê. Sou ons bovermelde stelling op ‘n dorp op pad na 10 000 inwoners toepas, sal elke nuwe huishouding as ’n bedreiging vir intimiteit beskou word. Sosiale kwale en uitdagings sal ook aan nuwe intrekkers toegeskryf word. Die gesonder doel is daarom eerder “ meer families binne een volk”.
Die binnekringe waarna Dunbar verwys, wys ons ook na waar versorging werklik plaasvind. Welstand hou verband met die vyf en die vyftien, nie met die Whatsapp kontaklys nie. ’n Dorp wat huise laat groei sonder om daardie klein netwerke te laat groei, sal vol lyk maar dun aanvoel. Naroll het later in The Moral Order na sulke netwerke as “moralnets” verwys: die primêre groep wat steeds vir ’n persoon sê wie hy is en wat van hom verwag word. Kantore kan dit nie vervang nie, maar kan ook nie behoorlik sonder dit funksioneer nie.
Verdeel werk en leiers daarmee saam
Keller se formule is maklik om te onthou. In ’n klein liggaam word beleid deur baie mense bepaal en bediening deur min mense gedoen. In ’n groot liggaam word bediening deur baie mense gedoen en beleid deur min mense bepaal.
Hierdie verwikkeling pla diegene wat die eerste reëling verkies het. Maar dit is hoe grootte werk. ’n Bekwame leier kan ’n klein dorpie op die grond organiseer, maar hy kan nie persoonlik 10 000 mense besoek, personeel aanstel, beplan en onderlinge geskille besleg nie. Personeel en vrywilligers beweeg van mense wat allerhande dinge doen na mense wat in spesifieke velde spesialiseer. Die mees sigbare leiers bestee vervolgens minder tyd daaraan om saam met almal te braai en meer tyd daaraan om die groter verhaal duidelik te hou, probleme vroeg raak te sien en ander leiers te ontwikkel. Kontinuïteit aan die bopunt word belangriker, omdat die instelling self ’n belangrike bron van stabiliteit word.
Naroll se beginsel van allometrie sê basies dieselfde. Spesialisering en organisatoriese vlakke neem vinniger toe as die aantal mense. Elektrisiteit, water, beplanning, geld, kommunikasie en dissipline kan nie almal in een kantoor van vertroude amateurs bly sodra ’n nedersetting duisende mense bereik nie. Spesialisering word nodig. Om spesialisering te weier, bewaar nie gemeenskap nie, dit veroorsaak uitbranding en bottelnekke.
Die innerlike koste vir die leier is werklik. Keller het gesê dat die senior leraar van ’n baie groot gemeente skuldig sal voel omdat hy nie almal se persoonlike herder kan wees nie. Orania se leiers sal dieselfde voel. ’n Gemeenskap wat weier om toe te laat dat die rolverdeling verander, sal die dorp wil terugdwing na die grootte wat by die huidige verwagting pas.
Besluite beweeg eers na binne en dan weer na buite
Sou ons na die pad kyk wat mag volg, sal ons dien dit is nie ’n reguit pad na een sterk man nie.
In ’n klein dorpie gemeenskap beweeg verandering van onder af deur ’n paar informele meningvormers en leiers, met konsensus as ongeskrewe grondwet. Enigiemand wat sterk gekant is, kan die hele proses vertraag. Dit voel demokraties. Dit gee egter ook buite verhouding baie mag aan die hardste stemme asook aan diegene wat die langste gevestig is (die stigterslid of pionier verskynsel).
Namate die instelling na ’n paar honderd en dan ’n paar duisend mense groei, beweeg besluite na binne: van die algemene vergadering na die bestuur, en dan na personeel en uitvoerende leiers. As dit nie gebeur nie, verdrink die dorp in prosesse. Keller is duidelik daaroor dat die handhawing van groepkonsensus ná die punt waarop dit prakties werkbaar is, dikwels tot fatale vertragings en onpraktiese flou kompromieë lei.
Dan keer die rigting om. Wanneer die kompleksiteit ’n sekere punt bereik – Schaller en Keller plaas die kerkweergawe naby die hoë honderdtalle en daarna rondom 2 000 – faal die “middelpunt en speke”-model. Een kaptein kan nie elke speek beheer nie. Mag / besluitneming moet dan weer na buite beweeg, na departementshoofde wat vertrou word om binne hul gebied op te tree sonder om elke besluit deur die sentrum te stuur. Die personeel word ’n span van spanne.
Orania, op pad na 10 000, behoort albei bewegings in die regte volgorde te verwag. Eerstens kan ’n algemene jaarvergadering nie die bedryfstelsel vir alles bly nie. Tweedens kan ’n klein binnekring ook nie die bedryfstelsel bly nie. Woonbuurte, skole, gemeentes, kolleges en sakekamers sal ‘n werklike mandaat nodig hê. Voortgesette sentralisasie sonder latere desentralisasie skep ’n knelpunt. Desentralisasie sonder ’n gedeelde visie en verhaal skep koersloosheid.
Vertroue is die skarnier. Schaller het gevra waarom so min gemeentes baie groot word as groot gemeentes buitestanders so goed bereik. Sy antwoord was vertroue. In ’n klein plek voel skeptiese mense meer gemaklik, omdat hulle kan sien wat gebeur en dit waarmee hulle nie saamstem nie kan keer. In ’n groot instelling moet mense ’n kleiner aantal mense met meer gesag vertrou, terwyl daardie mense so oop en verstaanbaar as wat die nuwe grootte dit toelaat, moet bly. ’n Gemeenskap wat nie bereid is om daardie vertroue te gee nie, sal nie groot bly nie, of dit sal groei maar verbitterd raak. Dit gesê, moet ons ook vir mekaar sê dat leierskap wat vertroue eis sonder behoorlike verduideliking en sonder kleiner kringe waarin mense ’n werklike stem het, sal die agterdog wek wat hulle juis probeer vermy.
Nuwelinge sal nie vanself “tuis kom” nie
In ’n klein plek is ’n nuwe gesin sigbaar. Iemand nooi hulle. In ’n dorp van duisende kan hulle maande lank hier woon en steeds hulself buite ’n noemenswaardige sosiale kring bevind. Keller se vrae kan byna onveranderd na Orania oorgedra word. Hoe kom mense hier aan? Wie merk hulle op? Waar leer hulle ons verhaal en die ongeskrewe reëls? Wie stap vir ses maande saam met hulle? Hoe kry hulle werk, skakel hulle by ‘n kerk in en vind hulle ’n vriendekring?
Dit word om dieselfde twee redes wat Keller noem, moeiliker om vrywilligers te werf. Dit is makliker om vir ’n vreemdeling nee te sê as vir ’n buurman. Dit is makliker om aan te neem dat die dorp genoeg ander mense het. Formele uitnodiging, opleiding en dankie-sê word noodsaaklik.
Studente en mense wat net vir kort tydperke in Orania studeer of werk, maak dit nog belangriker. Hulle bring energie en stimuleer die ekonomie, maar vertrek dikwels voordat hulle ’n kring van vyftien goeie vriende opgebou het. Sonder gasgesinne en gemeentes bly hulle vir altyd kennisse: herken, maar nie geken nie. By 10 000 sal hierdie realiteit nog groter wees. Welkom in Orania moet dalk ’n weldeurdagte gemeenskapstelsel wees en nie net ’n gevoel nie.
Kommunikasie volg dieselfde reël. Mondelinge mededelings, een kennisgewingstelsel en ’n aankondiging by ’n vergadering sal nie 10 000 mense bereik nie. Wanneer “niemand het ons vertel nie” ’n voortdurende klagte word, het die dorp ’n grens in grootte oorgesteek. Boodskappe het meer as een kanaal, meer tyd en meer herhaling nodig. Dit is nie burokrasie ter wille van burokrasie nie. Dit is respek vir mense wat nie meer een gedeelde netwerk van nuus het nie.
Die gehalte van openbare dienste en fasiliteite styg om verwante redes. In ’n klein dorpie word swakker amateurwerk met welwillendheid aanvaar, want “ons ken hulle”. In ’n groter dorp het die nuweling nie daardie verhouding as teenwig nie. Skole, dienste, geleenthede en die voorkoms van gedeelde ruimtes word deel van hoe ’n vreemdeling besluit of hierdie dorp sy/haar tuiste kan wees. Beplanning moet deeglike wees en vroegtydig begin. Laaste-minuut-improvisasie werk nie meer nie.
Groei sal ook mense kos. Kleiner plekke verander stadig omdat hulle bang is om iemand te verloor. Groter plekke verander vinniger en aanvaar dat sommige mense sal vertrek. Sommige sal weggaan en sê die dorp is te groot, te formeel of nie meer die plek wat hulle aanvanklik gekies het nie. Leiers moet nie die hartseer hierin afjak nie, maar hulle moet dit ook nie behandel asof elke vertrek die bewys is dat die dorp besig is om sy siel te verloor nie.
Wat die pad na 10 000 vra
Hou die droom helder en betekenisvol. Mense bly in ’n klein plekkie ter wille van verhoudings. Hulle aanvaar die wrywing van ’n groter plek ter wille van ’n missie. Orania is ’n doeldorp. Baie mense het nie net vir ’n erf hierheen gekom nie. Hulle het gekom weens ’n bepaalde oortuiging oor werk, taal, kultuur, verantwoordelikheid en die toekoms. Namate ons getalle groei, moet daardie oortuiging duideliker word, nie vaer nie. Leiers kan nie net op grond van dienstyd en vriendelikheid gekies word nie. Hulle moet die filosofie deel, anders vervaag die visie en word ons bloot net nog ’n gewone dorp, maar met ’n bekende naam. Dunbar se historiese steekproef van utopiese gemeenskappe het gevind dat godsdienstige gemeenskappe en gemeenskappe met ’n hoë vlak van verbintenis langer bestaan het en by groter groottes beter bymekaar gebly het as gemeenskappe met ’n sekulêre basis. Gedeelde aanbidding, sang, ’n kalender van gemeenskapsaktiwiteite en ’n gemeenskaplike verhaal doen van die bindingswerk wat vroeër deur daaglikse nabyheid gedoen is.
Bou die klein kringe. Meet gesondheid daaraan of ’n nuwe huishouding binne ses maande vyf mense kan noem wat hulle in die nag sou bel om met ‘n krisis te help – nie daaraan of hulle die mees sigbare amptenaar ontmoet het nie. Strate, woonbuurte, gemeentes, werkspanne en skoolklasse is nie toevallige bykomstighede nie, dit is die manier waarop ’n plek van 10 000 mense sy hart behou.
Laat woonbuurte lewe kry. ’n Groep van 500 tot 900 mense is reeds ’n Naroll-probleem en ’n Dunbar-laag van ongeveer 500. Gee aan hierdie gebiede ’n mate van identiteit en ’n rol in versorging, anders sal inwoners 800 bure as ’n skare ervaar. Plaaslike sport, plaaslike etes, plaaslike pastorale versorging en plaaslike inspraak is nie ’n bedreiging vir eenheid nie, solank die gedeelde verhaal sterk bly.
Aanvaar ampte sonder om dit te verabsoluteer. Bo 500 moet rolle kan funksioneer selfs wanneer ’n geliefde persoonlikheid afwesig is. Bo 1 000 het orde ’n gespesialiseerde, deurlopende proses nodig. Publiseer die reëls. Herhaal die boodskappe. Delegeer. Hou terselfdertyd die omgang warm sodat die ampte nie ’n dun staat bo-op vreemdelinge word nie.
Beweeg mag eers na binne en dan weer na buite. Hou op om van die hele dorp te verwag om konsensus oor elke operasionele kwessie te bereik. Gee departemente en plaaslike leiers ruimte om op te tree. Hou hulle verantwoordbaar teenoor die visie en vir resultate wat ook karakter insluit en nie net op verkoopte erwe en harde infrastruktuur fokus nie.
Maak verwelkoming ’n pad. Werf mense om nuwe inwoners te begelei na oriëntering. Vra vrywilligers by die naam om te help en bedank hulle in die openbaar. Behandel die eerste jaar van ’n nuwe huishouding as ’n pastorale tydperk, nie net as ’n administratiewe een nie.
Effektiewe tydsbestuur. Gemeenskapsleiers en senior amptenare wat probeer om vir almal beskikbaar te wees, sal uiteindelik vir niemand werklik sinvol beskikbaar wees nie. Dit is Dunbar se voorgestelde tydsbegroting en ook Keller se waarskuwing aan die leraar van ’n groot gemeente. Gefokusde skakeling is daarom van kritieke belang.
Let op interne verdeeldheid. ’n Hutteritiese gemeenskap (soortgelyk aan die Amish) sal op 150 mense al afstigting begin oorweeg omdat die groep sou begin voel dat die groter getalle besig is om onbestuurbaar te word. ’n Groot gedeelte van Orania se mense sal nie weens anonimiteit oppak en wegtrek nie, maar die gemeenskap kan binne-in homself verdeel: Groot Dorp en Kleingeluk, hierdie kerk en daardie kerk, “oud-Oraniërs” en inkommers. Dit is normale verskynsels, daarom lê die antwoord by meer gedeelde etenstafels en ’n duideliker gemeenskaplike doel en nie by ’n verwagting dat al die inwoners steeds in die Gemeenskapsaal moet pas nie.
Ten slotte, verwerp die volgende twee bygelowe:
- Dat ‘n kleiner Orania die ware Orania was.
- Dat groei op sigself ’n bewys van seën is.
Keller se laaste wenk is ook sy eerste een: verskillende groottekulture is verskillend, nie outomaties beter of slegter nie.
Orania se uitdaging op pad na 10 000 inwoners is om:
- die stad wat dit besig is om gestalte te kry, te aanvaar;
- die anonimiteit en die denke wat net op finansiële welvaart fokus en met groter skaal gepaard gaan, te weerstaan;
- genoeg kleiner, sterk gemeenskapsgeleenthede binne die groter geheel te behou sodat ’n mens steeds geken kan word – nie deur almal nie, maar deur genoeg mense om geborge te voel.
~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op: Tim Keller se lesse vir ’n groeiende Orania – Bepeins