~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op: Vertroue en die strewe na gemeenskap – Bepeins
Gemeenskap bestaan nie net uit gedeelde doelwitte, slim stelsels of selfs ’n gemeenskaplike taal nie. Dit benodig iets meer subtiel en veel kwesbaarder: die bereidheid om te vertrou.
Sonder vertroue bly mense soos eilande van mekaar afgesonder. Met vertroue kan hulle iets bou wat groter as hulleself is. Vertroue is die onsigbare fondament waarop samewerking, vriendskap, gesinslewe en ’n florerende samelewing gebou word. Waar vertroue bestaan, word die gewone lewe ryker. Waar dit ontbreek, stort selfs die beste planne uiteindelik in duie onder die gewig van agterdog en konflik.
Hierdie waarheid word mooi geïllustreer deur ’n eenvoudige ekonomiese verhaal wat dikwels aan studente vertel word.
Die eerste kokosneut
In sy artikel “Can a Freely Given Coconut Begin Civilization?” behandel Anthony Gill hierdie ekonomiese verhaal op ‘n oorspornklike wyse.
Stel jou Robinson Crusoe voor, alleen op ’n eiland. Hy versamel kokosneute en vang nou en dan ’n vis, maar sy lewe is moeilik. Dan eendag ontmoet hy nog iemand op die eiland – Friday. Volgens die bekende ekonomie-handboek weergawe sien die twee mans gou raak dat hulle verskillende vaardighede het. Een is beter daarmee om bome te klim en kokosneute te versamel; die ander is beter met visvang. Hulle spesialiseer, ruil met mekaar, en albei se lewens verbeter.
Die klassieke ekonomiese les is dié van vergelykende voordeel: handel maak almal beter daaraan toe.
Maar daar is ’n belangrike stap wat die handboek gewoonlik uitlaat.
Wanneer twee vreemdelinge mekaar onder onsekere omstandighede ontmoet, is onmiddellike samewerking nie die natuurlike reaksie nie. Versigtigheid en agterdog is.
Elkeen wonder: Is hierdie persoon ’n bedreiging? Sal hy my aanval? Sal hy my besteel? Is die kos wat hy aanbied ’n lokval?
As daar niks is wat hierdie agterdog verbreek nie, mag die twee mans nooit by vreedsame ruil uitkom nie. Hulle kan eenvoudig uit mekaar se pad bly en albei armer daaraan toe wees . Of hulle kan selfs teen mekaar draai.
Wat verander die situasie?
’n Vrywillige geskenk.
Een van die mans plaas ’n paar kokosneute op die grond en tree terug. Hy wys daarmee: Ek is bereid om iets van waarde vir jou te gee sonder om onmiddellik iets daarvoor terug te eis.
Die geskenk kos hom iets. Dit maak hom kwesbaar. Maar juis daarom dra dit ’n belangrike boodskap: Ek kom in vrede.
Eers wanneer daardie boodskap aanvaar word, kan ’n verhouding begin. Wederkerigheid word moontlik. Spesialisasie en handel kan volg. Vertroue kom voor transaksies en verhoudings voor handel.
Sonder daardie eerste daad van vertroue sou die welvaart wat uit samewerking voortvloei, nooit ontstaan nie.
Dieselfde beginsel geld natuurlik vir veel meer as twee mense op ’n verlate eiland.
Elke gemeenskap – of dit nou ’n gesin, ’n buurt, ’n dorp of ’n land is – berus daarop dat mense bereid is om hulleself op klein én groot maniere kwesbaar te stel.
Ons vertrou dat die winkelier ons genoeg kleingeld gee. Ons vertrou dat die buurman nie iets aan ons eiendom in ons afwesigheid sal doen nie. Ons vertrou dat ’n vriend ’n geheim sal bewaar. Ons vertrou dat ’n kollega sy deel van die werk sal doen.
Hierdie klein dade van vertroue, wat dag na dag herhaal word, skep die klimaat waarin groter samewerking moontlik is.
Wanneer daardie vertroue verbrokkel, begin die gemeenskap uitrafel. Mense trek terug agter mure van agterdog. Elke transaksie word moeiliker. Die koste van samewerking styg. Die lewe word armer, killer en meer onseker.
Vertroue is net so noodsaaklik vir gesonde persoonlike verhoudings.
’n Huwelik, vriendskap of ouer-kind-verhouding vereis almal ’n mate van openheid wat soms pynlik kan wees. Om iemand lief te hê, beteken om jouself bloot te stel aan die moontlikheid dat daardie persoon jou kan seermaak.
Die mens wat nooit hierdie risiko wil loop nie, vermy dalk sommige wonde, maar hy ontneem homself ook van die diepste vorme van verbondenheid.
Sonder vertroue word verhoudings ’n tipe toneelspel of voortdurende onderhandeling. Elkeen waak oor sy eie belange. Gesprekke bly oppervlakkig. Liefde word vervang met valse of oppervlakkige vriendelikheid en mettertyd begin die verhouding emosioneel en geestelik verarm.
Selfgesentreerde vrees
Die teenoorgestelde van vertroue is nie bloot versigtigheid nie. Dit is ’n defensiewe, selfgesentreerde ingesteldheid wat die wêreld en so te sê almal om hom as fundamenteel vyandig beskou.
George Kennan het hierdie verskynsel treffend raakgesien. In sy 1947 artikel getitels “The Sources of Soviet Conduct” skryf hy onder andere:
“It is an undeniable privilege of every man to prove himself right in the thesis that the world is his enemy; for if he reiterates it frequently enough and makes it the background of his conduct he is bound eventually to be right.”
Dit is die logika van die paranoïese mens wat deur vrees aangevuur word.
Hy tree op asof almal daarop uit is om hom te brand. Hy is moeilik om mee saam te werk. Hy lees bedreiging in neutrale optrede en hy verdedig homself nog voordat daar werklik ‘n aanval teen hom is. Maar mettertyd raak die mense rondom hom moeg vir die voortdurende wantroue en beskuldigende gedrag. Hulle onttrek hulle of begin weerstand bied. En dan gebeur iets ironies: sy oorspronklike vrees word bewaarheid.
Nie omdat dit van die begin af waar was nie, maar omdat sy eie gedrag die vyandigheid geskep het wat hy verwag het.
Dit is ’n selfvervullende profesie en dit vernietig gemeenskap.
Mense wat voortdurend in die verdedigingsmodus is, verklein die kring van mense met wie hulle bereid is om saam te werk en hulle maak van potensiële vennote teenstanders. Wat as selfhandhawing begin het, eindig in isolasie en die gemeenskap verloor die samewerking wat almal beter daaraan toe kon laat wees.
Agterdog kweek agterdog en vertroue wat eenmaal geskend is, is moeilik om weer op te bou.
Jesus Christus hou aan ons ’n ander manier van leef voor – een wat vertroue doelbewus aankweek.
Die grondslag daarvan is die oortuiging dat ons nie alleen is nie en dat ons uiteindelik nie onbeskermd is nie.
Die Skrif sê keer op keer: “Vrees nie.” God sê aan sy volk in Jesaja 41:10:
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”
Hierdie versekering beteken nie dat ander mense ons nooit sal seermaak nie. Dit verander egter die betekenis en gewig van daardie moontlikheid. As ons uiteindelike veiligheid in God lê, is tydelike verlies, teleurstelling of selfs verraad nie die einde van alles nie. Ons kan dit waag om te vertrou, omdat ons diepste welstand nie uiteindelik in die hande van ’n ander mens is nie.
Uit hierdie fondament vloei konkrete opdragte wat vertroue in die praktyk bou.
Liefde en vergifnis
Jesus vat in Matteus 22:39die wet saam met die opdrag:
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Maar Hy gaan verder. Hy beveel sy volgelinge om selfs hulle vyande lief te hê en te bid vir dié wat hulle vervolg (Matteus 5:44).
Dit is nie sentimentele mooiweerswoorde nie. Dit is ’n opdrag om jou op die welsyn van die ander mens te rig, selfs wanneer daardie persoon jou nog geen rede gegee het om hom te vertrou nie. Hierdie liefde wag nie totdat die ander persoon eers sy betroubaarheid bewys het nie. Dit tree eerste op.
Jesus leer ons ook in Matteus 5:39 om die ander wang te draai:
“Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.”
Dit is nie ’n oproep om ’n vloerlap te wees nie. Dit is ’n weiering om die konflik verder te laat eskaleer. Dit verbreek die siklus van vergelding wat vyandigheid voed.
Wanneer een mens weier om seerkry met nog meer seerkry te beantwoord, verloor die spiraal van vyandigheid sy momentum. Skielik is daar ruimte vir ’n ander reaksie.
Daarmee saam kom vergifnis.
Die Skrif stel dit duidelik in Efesiërs 4:32:
“Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”
En in Kolossense 3:13:
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”
Vergifnis beteken nie dat ons maak asof die verkeerde nooit gebeur het nie. Dit beteken dat ons weier om toe te laat dat daardie verkeerde daad die verhouding vir altyd definieer.
Sonder vergifnis word elke wond ’n permanente muur.
Met vergifnis bly daar ’n deur oop waardeur vertroue weer herstel kan word.
Hierdie praktyke werk omdat hulle die paranoïese siklus omkeer.
In plaas daarvan om ander as bedreigings te behandel en hulle sodoende uiteindelik in bedreigings te verander, word die Christen geroep om ander te behandel as mense wat tot die goeie in staat is. Só word die deur oopgemaak vir daardie goeie om na vore te kom.
Die Skrif sê in 1 Johannes 4:18:
“Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”
Wanneer vrees nie meer aan die stuur is nie, word vertroue moontlik. Dit beteken egter nie dat ons naïef moet wees nie. Bedrieërs en uitbuiters bestaan. Daar is mense wat voordeel uit ander sal probeer trek. Die Christelike oproep is nie om die werklikheid te ontken nie, maar om daarop te reageer sonder om sinies te word. Sinisme veralgemeen, sien elke mens as ‘n potensiële vyand en sluit die hart.
Wysheid doen iets anders. Dit leer om patrone raak te sien. Dit herken die bedrieër vinniger, maar dit laat steeds ruimte vir diegene wat nie bedrieërs is nie. Die verskil is ingrypend.
Die een ingesteldheid laat die gemeenskap krimp. Die ander hou die deur oop.
Vertroue word nie in die eerste plek deur preke gebou nie. Dit word deur optrede gebou.
’n Mens verander sy omgewing deur op ’n bepaalde manier te leef, eerder as om te wag dat almal rondom hom eers verander.
Die eerste kokosneut wat vrywillig gegee word, is kragtiger as ’n lang lesing oor samewerking.
Om mekaar te dien
Die mens wat bereid is om ’n koste te dra, te vergewe en iemand die voordeel van die twyfel te gee, demonstreer die gedrag wat hy graag in ander wil sien. Mettertyd kan so ’n voorbeeld die verwagtinge van die mense rondom hom verander. Wederkerigheid word meer algemeen omdat iemand dit eerste gewys het.
Die dieper doel hiervan moet egter verstaan word – as die lewe bloot ’n stryd om ophoping en onttrekking is, lyk kwesbaarheid soos dwaasheid, maar as die lewe verstaan word as deelname aan iets groters – die bewerking van die skepping, die opbou van ander mense en die weerspieëling van God se eie vrygewige karakter – dan is selfopoffering nie dwaasheid nie, maar die natuurlike manier om te leef. Deur te gee, deel ’n mens in oorvloed eerder as om bloot met ander in skaarsheid mee te ding.
Jy word deel van iets groter en mooier as jouself.
Gemeenskappe wat hierdie waarhede ernstig opneem, ontwikkel gewoonlik ’n hoër vlak van algemene vertroue. Mense werk makliker saam. Konflik word meer gereeld ontlont en verhoudings herstel. Die atmosfeer is minder agterdogtig en vreesgedrewe. Die ekonomiese lewe funksioneer met minder wrywing omdat kontrakte op meer as net regsafdwinging berus.
Gesinslewe word sterker omdat seerkry nie outomaties in permanente skeuring verander nie.
Bure onderskraag mekaar omdat hulle oor die algemeen verwag dat daar ook na húlle omgesien sal word.
Maar niks hiervan gebeur vanself nie. Vertroue moet beoefen word.
Dit vra ’n daaglikse keuse om oop eerder as geslote te bly; om eerste te gee eerder as om vir ander te wag; om ’n koste te dra eerder as om vooraf absolute veiligheid te eis.
Dit vra ook nederigheid; die bereidheid om te erken dat ons eie verdedigingsmeganismes soms bydra tot die einste probleme waaroor ons kla.
En dit vra geloof: die geloof dat ons uiteindelik nie alleen staan in hierdie poging nie.
Die soeke na gemeenskap is daarom ook ’n soeke na die voorwaardes waaronder vertroue kan groei.
Ekonomies gesproke moet die kokosneut eers gegee word voordat die vis geruil kan word. In verhoudings moet ’n mens bereid wees om kwesbaar te wees voordat diep verbondenheid kan ontstaan.
En geestelik moet vrees plek maak vir die sekerheid van God se teenwoordigheid voordat die veeleisende opdragte van liefde en vergifnis konsekwent uitgeleef kan word.
Wanneer hierdie dinge bymekaar kom, word iets merkwaardigs moontlik.
Vreemdelinge word bure. Bure word vennote. Vennote word vriende. En ’n groep los-swerwende individue begin uiteindelik ’n ware gemeenskap vorm. ’n Gemeenskap wat swaarkry kan deurstaan, sukses saam kan vier en ’n gesonder manier van lewe aan die volgende geslag kan oordra.
Vertroue is nie die enigste eienskap van gemeenskap nie, maar dit is die gom waarsonder die res nie staande kan bly nie. Dit is die stille voorwaarde wat alles anders moontlik maak.
Dit is die onsigbare fondament waarop mense mekaar vind, waarop samewerking gebou word en waarop ’n gemeenskap uiteindelik kan floreer.
~Hierdie artikel is deur Gawie Snyman en is geplaas op: Vertroue en die strewe na gemeenskap – Bepeins