Inwoners van Londen én besoekers is hierdie week behoorlik onkant gevang toe ’n reuse Kersfeesmuurskildery in Kingston upon Thames opslae gemaak het – en nie om die regte redes nie. Die werk, vermoedelik deur kunsmatige intelligensie geskep, het vinnig die ronde gedoen op sosiale media ná mense die bisarre en ontstellende detail daarin begin opmerk het.
Op die eerste oogopslag lyk die skildery soos ’n vrolike feesviering langs die rivier. Maar ’n tweede kyk ontbloot ’n reeks verdraaide gesigte, vreemsoortige gesigstrekke en selfs diere met abnormale kenmerke. ’n Sneeuman met ’n misvormde gesig, honde met voëlkoppe en feestelinge wie se uitdrukkings eenvoudig nie menslik lyk nie, sorg dat die skildery meer spookhuis as Kersfeesviering voel.
Die “kersvader”-figuur in die skildery word uitgebeeld terwyl hy in die water by die voet van ’n rots lê. Sy oë is toe en sy half-oranje, half-wit baard dra by tot die onheilspellende atmosfeer.
Plaaslike inwoners het nie geskroom om hul menings te lug nie. Een persoon het gereageer: “Die hele ding is skrikwekkend.” ’n Ander het opgemerk: “Ek is tegelyk verheug en ontsteld.”
Kingston upon Thames se munisipaliteit het intussen afstand gedoen van die projek en in ’n verklaring bevestig dat hy geen rol in die beplanning of befondsing gespeel het nie. Die eienaar van die gebou waarop die skildery aangebring is, het ook onderneem dat die installasie verwyder sal word.
Vir baie bly die grootste vraag egter: Hoe het ’n KI-kunswerk so duidelik ontspoor sonder dat iemand dit betyds raakgesien het? Soos een kommentator dit gestel het: “Dit gaan die verstand te bowe dat wanneer jy KI gebruik, jy nie eens die moeite doen om ’n oomblik te neem om dit eers te kontroleer nie.”
Wat ook al die antwoord, die skildery het beslis sy merk gemaak – al is dit nie die soort Kersfeesvreugde wat Londense inwoners in gedagte gehad het nie.