Spekboom is reeds bekend vir sy omgewingswaarde, maar navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat ondersoek nou ook die plant se potensiaal as ’n voedsame toevoeging tot Suid-Afrikaners se dieet.

Prof. Alba du Toit, voorsitter van Innoverende Landbouverwerking vir Klimaatslim Voedselstelsels aan die universiteit, sê spekboom bevat baie vitamien C, asook verskeie van die minerale wat in ander groen blaargroente voorkom.

“In kombinasie met ander kos is dit baie, baie voedsaam en dit is ook heerlik,” het sy gesê.

Moet saam met ander kos geëet word

Spekboom bevat egter nie besonder baie energie of proteïene nie en behoort daarom saam met ander kos geëet te word.

Du Toit beskryf die plant se smaak as aangenaam suur en die blare as krakerig.

Die blare kan rou in slaaie geëet of soos ander groen groente gaargemaak word. Du Toit stel voor dat dit met bestanddele soos ui, knoffel, kruie en tamatie gekombineer word.

Spekboom kan volgens haar ook gebruik word om blatjang of piekels te maak.

Van die tuin na die winkelrak?

Du Toit meen verbruikers sal eers meer vertroud met spekboom as voedsel moet raak voordat dit algemeen as groente in winkels beskikbaar sal word.

“Ek dink sodra verbruikers daarvan weet en meer bereid is om dit te eet, sal ons begin sien dat dit sy weg na ons markte vind,” het sy gesê.

Bekende Suid-Afrikaanse sjefs kan volgens haar ook help om spekboom as voedsel onder die publiek bekend te stel.

Volgens Du Toit het navorsers tot dusver geen bewyse gevind dat die eet van die blare skadelik is nie, hoewel verdere navorsing steeds gedoen word.

Haar raad is dat spekboom, soos ander groente, met matigheid geëet moet word.

“Pluk net ’n paar blare en probeer dit.”