Frankryk sê geen land, insluitend die Verenigde State, het druk uitgeoefen om Suid-Afrika se uitnodiging na vanjaar se G7-beraad terug te trek nie.
Die Franse minister van buitelandse sake, Jean-Noël Barrot, het beklemtoon dat die besluit uit Frankryk se eie beplanning voortspruit. Volgens hom was die fokus om Kenia te betrek as deel van voorbereiding vir ’n groter Afrika-beraad wat later vanjaar in Nairobi plaasvind.
Hy het ook aangedui dat Frankryk vanjaar ’n meer gefokusde en afgeskaalde G7-beraad wil aanbied.
Die kwessie het ontstaan nadat president Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, vroeër gesê het die VSA het glo gedreig om die beraad te boikot indien Suid-Afrika genooi word.
Ramaphosa het egter later self gesê daar is geen aanduiding dat enige land druk op Frankryk geplaas het nie.
Hy het ook die idee verwerp dat Suid-Afrika “afgejak” is uit die beraad.
Volgens Ramaphosa is Suid-Afrika nie ’n lid van die G7 nie, en is dit nie ongewoon dat lande buite die groep nie genooi word nie. Hy het verder daarop gewys dat Suid-Afrika ook nie elke G7-beraad bywoon nie, en dat die land se afwesigheid vanjaar nie as buitengewoon beskou moet word nie.