Honde wat oorspronklik opgelei is om renosters en ander bedreigde diere teen stropers te beskerm, word nou in Suid-Afrika se makadamiaboorde ingespan om ’n plaag op te spoor voordat produsente dit maklik met die oog kan raaksien.
Luna Hounds, ’n onderneming in Hoedspruit wat spesialiswerkhonde oplei, sê sy hondespanne kan besmetting deur die makadamia-fluweeldopluis met ’n akkuraatheid van tot 99% opspoor.
Die vroeë opsporing kan produsente help om presieser te bepaal waar behandeling nodig is en waar nie. Dit kan volgens die onderneming onnodige gebruik van chemiese middels verminder.
’n Opgeleide hondespan kan tans sowat een hektaar binne 11 minute deursoek indien geen besmetting voorkom nie.
Van renosterstropery na landbou
Robynne Oosthuizen, stigter van Luna Hounds, sê die onderneming het sy oorsprong in teenstroperywerk. Die vermoë van honde om besonder klein verskille deur reuk op te spoor, het haar laat ondersoek instel na ander moontlike gebruike.
Die eerste stap na landbou het gekom toe Luna Hounds honde begin gebruik het om valskodlingmot in sitrus op te spoor. Oosthuizen se man het destyds by ’n sitrus- en druiwepakonderneming gewerk en haar vertel van vrugtebesendings wat weens dié plaag afgekeur is.
Omdat vroeë besmetting moeilik sigbaar kan wees, is die honde opgelei om dit deur reuk op te spoor. Volgens Luna Hounds kon ’n hond binne sowat 30 sekondes ’n enkele besmette sitrusvrug tussen duisende vrugte uitken.
Dié werk het Oosthuizen aangespoor om moontlike toepassings in die makadamiabedryf te ondersoek.
Luna Hounds het Green Farms Nut Company (GFNC) aanvanklik genader oor die opsporing van valskodlingmot in makadamias. Nadat die praktiese moontlikhede ondersoek is, is besluit om eerder op die makadamia-fluweeldopluis te konsentreer.
Plaag opgespoor voordat dit maklik sigbaar is
Die makadamia-fluweeldopluis (Acanthococcus ironsidei) is ’n indringerplaag wat in 2017 die eerste keer in Suid-Afrika aangeteken is en intussen as ’n gereguleerde plaag verklaar is.
Barry Christie, groepstegniese landboubestuurder van GFNC, sê die tegniek kan veral waarde hê op plase waar produsente onseker is of hul boorde besmet is. Die honde kan ook gebruik word om plantmateriaal in kwekerye te ondersoek voordat dit na nuwe produksiegebiede verskuif word.
Anders as tradisionele plaagopsporing wat sterk op visuele ondersoek steun, word die honde opgelei om die reuk wat met besmetting gepaardgaan, te herken.
“Die honde hoef nie die plaag te sien nie,” verduidelik Oosthuizen. “Wanneer die plaag die plant binnedring, verander die samestelling van die reukprofiel en die honde kan dit opmerk.”
Minder onnodige bespuiting moontlik
Die doel is nie net om vas te stel waar die plaag voorkom nie, maar ook waar dit nié teenwoordig is nie.
Volgens Oosthuizen kan produsente wat presies weet watter dele van ’n boord besmet is, behandeling beter teiken en vermy om gebiede onnodig met chemiese middels te behandel.
“Weet waar die fluweeldopluis voorkom en moenie spuit waar dit nie voorkom nie,” het sy gesê.
Christie meen die benadering kan produsente help om probleme vroeër te identifiseer, behandeling beter te rig en uiteindelik minder insette te gebruik waar dit nie nodig is nie.
Deon du Plessis van Rietplaatz Landgoed in Barberton, een van die produsente wat saam met Luna Hounds werk, sê die honde bied produsente nog ’n hulpmiddel om beter besluite in die boord te neem.
Só word die honde opgelei
Die opleiding begin deur ’n hond met die reuk van die teiken vertroud te maak. Daarna leer die dier om ’n boord of ander gebied stelselmatig te deursoek.
Omdat die vervoer van lewende besmette plantmateriaal nie prakties is nie, werk Luna Hounds saam met ’n Switserse onderneming wat opleidingsmateriaal vir reukhonde vervaardig.
Spesiale hoogs absorberende buise word in besmette makadamiabome geplaas om die reuk wat met die besmetting verband hou, vas te vang en te behou. Die materiaal kan daarna vir opleiding gebruik word sonder dat die plaag self vervoer hoef te word.
Die intensiteit van ’n hond se reaksie kan volgens Luna Hounds ook ’n aanduiding gee van hoe hoog of laag die besmettingsdruk is. Verdagte bome word gemerk, bevindings word met ’n toepassing aangeteken en produsente ontvang ’n verslag waarin moontlike probleemgebiede aangedui word.
Die honde kan ná behandeling weer deur die boord geneem word om te help bepaal of die beheerprogram geslaag het.
17 werkende honde
Luna Hounds het tans 17 werkende honde. Hul opleiding begin reeds wanneer hulle sowat drie maande oud is, maar hulle begin gewoonlik eers op ongeveer tweejarige ouderdom operasioneel werk.
Die onderneming verkoop nie individuele opsporingshonde aan produsente nie. Hond-en-hanteerderspanne word eerder volgens die grootte van die plaas en die ligging en intensiteit van plaagbrandpunte ontplooi.
Luna Hounds ondersoek ook moontlike toepassings van reukhonde in ander landboubedrywe, waaronder suikerriet.
Vir Oosthuizen is die beginsel eenvoudig: gebruik die honde se natuurlike vermoë om probleme raak te ruik wat mense nie maklik kan sien nie – en tree op voordat die probleem groter word.