Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het statistieke oor plaasmoorde vir die afgelope vyf boekjare bekend gemaak, met ’n uiteensetting volgens provinsie, geslag en ras.
Die syfers is vrygestel in antwoord op ’n parlementêre vraag deur die EFF-LP Mbali Dlamini, wat meer besonderhede versoek het oor geweld in landelike gebiede, asook die maatreëls wat ingestel is om reaksietye te verbeter en polisiëring op die platteland te versterk.
Volgens die waarnemende minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, is 294 mense in dié tydperk tydens aanvalle in landelike en boerderygemeenskappe vermoor. Dit sluit 229 mans en 65 vroue in.
Die meeste voorvalle is in die Vrystaat aangeteken (71), gevolg deur Gauteng (57) en Mpumalanga (36). Ander provinsies sluit in KwaZulu-Natal (28), Limpopo (27), Noordwes (24), die Oos-Kaap (23), die Wes-Kaap (19) en die Noord-Kaap (9).
Wat ras betref, was 160 van die slagoffers swart, 124 wit, ses bruin en vier Indiërs.
Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, meen die syfers moet binne konteks geïnterpreteer word en dat die debat oor plaasmoorde dikwels verkeerd gevoer word.
Hy het verduidelik dat hoewel daar nie noodwendig meer boere as ander groepe vermoor word nie, die moordkoers onder boere relatief hoër is wanneer dit in verhouding tot hul getalle bereken word.
Volgens De Jager word plaasaanvalle verder gekenmerk deur sekere unieke faktore, onder meer openbare uitsprake wat geweld teen boere aanhits.
Hy het ook beklemtoon dat hierdie aanvalle dikwels met uiterste geweld gepaard gaan en dat baie van die voorvalle besonder wreed van aard is.
De Jager het verder aangevoer dat daar op sosiale media soms reaksies voorkom wat geweld teen wit boere aanmoedig, en dat daar volgens hom nie altyd voldoende teen sulke optrede opgetree word nie.