Die Voortrekkermonument in Pretoria het Maandag gevul met die klanke van Afrikaanse volksliedjies toe meer as 800 leerlinge en 80 onderwysers van Laerskool Constantiapark saam 51 FAK-liedjies uitgevoer het.
Die optrede was die hoogtepunt van ’n kultuurinisiatief wat oor die afgelope jaar by die skool plaasgevind het. Graad 1- tot 7-leerlinge het gedurende dié tydperk ’n uitgebreide versameling Afrikaanse liedjies aangeleer. Teen die einde van die dag het die leerlinge die monument se bekende trappe gevul, terwyl onderwysers, ouers en grootouers die uitvoering vanaf die omliggende terrein meegemaak het.
Die massasaamsang, met die Voortrekkermonument as agtergrond, het die belangrikheid van kultuurbehoud en die oordra van erfenis aan jonger geslagte op ’n besondere manier uitgelig.
Laerskool Constantiapark staan tans uit as die enigste laerskool in Suid-Afrika waar alle leerlinge van graad 1 tot 7 ’n repertorium van 51 FAK-liedjies ken en kan sing.
’n Belangrike deel van die projek se sukses was die persoonlike betrokkenheid van die skoolhoof, dr. Louis Dey, wat weekliks gehelp het om die liedjies aan die kinders te leer. Sy deelname het die projek verder uitgebou tot veel meer as bloot ’n musiekaktiwiteit en dit as ’n kultuur- en gemeenskapsinisiatief gevestig.
Die geleentheid sluit ook aan by die FAK se voorbereiding vir die bekendstelling van ’n nuwe FAK-Sangbundel in 2029, wanneer die organisasie sy honderdste bestaansjaar vier. Werk aan die derde uitgawe van die sangbundel is reeds goed onderweg, en verdere nominasies en stemprosesse vir liedjies sal binnekort op die FAK se sosiale media begin.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, toon die projek hoe sterk Afrikaanse kultuur steeds onder jongmense leef. “Wanneer honderde kinders saam FAK-liedjies sing, sien ons nie net ’n indrukwekkende vertoning nie – ons sien hoe die volgende geslag hul kultuurerfenis onbeskaamd omarm. Hierdie kinders bewys dat die FAK-liedjieskat steeds relevant, geliefd en lewendig is.”
Hy meen die dag se verrigtinge beklemtoon die rol wat die nuwe sangbundel in die toekoms sal speel. “Die FAK-Sangbundel is reeds vir dekades en deur generasies ’n draer van ons musikale en kulturele geheue. Wat vandag hier gebeur, wys presies waarom die nuwe Sangbundel belangrik is: ons erfenis leef nie op papier alleen voort nie, maar in die stemme van die volgende geslag wat dit met trots soos ’n fakkel die toekoms in dra.”
Die Voortrekkermonument het die simboliese waarde van die geleentheid verder versterk. As een van die land se bekendste erfenisterreine dien dit al dekades lank as ruimte waar geskiedenis, kultuur en gemeenskap byeenkom.
Die program het ’n wye verskeidenheid bekende Afrikaanse volksliedjies ingesluit. Baie van die ouers en grootouers het die liedjies herken en spontaan saamgesing, terwyl die uitvoering ook gewys het hoe hierdie musiek steeds aanklank by jonger geslagte vind.
Dr. Dey het die leerlinge deur die omvangryke program gelei en verduidelik hoe die projek begin het. “Ek het destyds besef jy kan nie ’n kind uit graad 7 stuur en hy haak by die tweede reël van Sarie Marais vas nie,” sê hy. “Ek het eers net ’n paar liedjies vir hulle geleer, maar dit het soos ’n veldbrand versprei. Ek het deur die FAK-Sangbundel geblaai en eindelik 51 gekies.”
Hy sê die projek het later ’n groter betekenis gekry as wat aanvanklik beplan is. “Nadat ons die 51 liedjies vir die kinders geleer het, het ek eintlik klaar in my doel geslaag, maar toe besef ek as ons hierdie FAK-liedjies teen die historiese agtergrond van die Voortrekkermonument kan sing en boonop in Afrikaans, is dit soveel groter. Dit is ’n viering van Afrikaans en Afrikanerskap.”
Dey het ook sy waardering uitgespreek teenoor die meer as 2 000 ouers en grootouers wat die geleentheid ondersteun het. “Dit is ’n baie groot voorreg om ons skoolgemeenskap hier te hê. Hulle is hier omdat hulle hier wil wees en dit is die voordeel van ’n skool wat moedertaalonderrig in Afrikaans aanbied, en die waardes, trots en dissipline wat daarmee saamgaan.”
Met die son wat oor Pretoria gesak het en die laaste liedere oor die terrein weerklink het, het die dag opnuut bevestig dat die FAK-liedjieskat steeds ’n lewende deel van Afrikaanse kultuur vorm en ’n belangrike rol speel in die vorming van toekomstige geslagte.