’n Bejaarde egpaar in hul 70’s is Woensdagaand wreed op hul plaas net buite Plettenbergbaai vermoor. Die grusame toneel is in Glen Loerie in The Crags ontdek – ’n kleinhoewe- en landbougebied sowat 20 km van Plettenbergbaai, bekend vir wynplase, wildreservate en buitelugaktiwiteite langs die Tuinroete. Die polisie se woordvoerder, adjudant-offisier Chris Spies, het die voorval bevestig.
’n 34-jarige verdagte is intussen in hegtenis geneem en word tans in Uniondale aangehou. Volgens inligting is ’n Mercedes-Benz wat teen hoë spoed op die R339 in die rigting van Uniondale beweeg het, omstreeks 18:50 deur ’n nommerplaatherkenningskamera vasgelê.
Die voertuig is daarna op ’n plaaslike sekuriteits-WhatsApp-groep uitgelig, waarna die polisie dit na die geregistreerde adres opgespoor het. By dié adres is die liggame van die 71-jarige vrou en 77-jarige man aangetref. Spies het gesê beide slagoffers het veelvuldige beserings opgedoen.
“Wat gevolg het, was ’n gekoördineerde agtervolging waaraan sowel die polisie as gemeenskapsveiligheidsstrukture deelgeneem het.” Die voertuig is later naby Uniondale opgespoor waar dit omgeslaan het, waarna die bestuurder te voet gevlug het. “Die verdagte is kort daarna vasgetrek,” het Spies gesê.
Daar word verder verstaan dat forensiese kenners beide tonele ondersoek en verwerk het as deel van die ondersoek. Die verdagte sal na verwagting in die hof verskyn sodra hy formeel aangekla is. Die motief vir die aanval is nog onbekend.