Suid-Afrika het ’n nuwe nasionale park in die Oos-Kaapse hooglande gekry.

Die Grasslands National Park beslaan 10 225,9 hektaar tussen Maclear (nou Nqanqarhu) en Rhodes en is saamgestel uit 18 eiendomme.

Die park is in die Staatskoerant as ’n nasionale park verklaar en sal onder bestuur van SANParke val.
Een van die hoofdoelwitte is om grasveld-ekosisteme te beskerm wat tot dusver relatief swak in Suid-Afrika se bewaringsgebiede verteenwoordig is. Die gebied vorm ook deel van die Oos-Kaapse Drakensberg se Strategiese Waterbrongebied, wat belangrik is vir watersekerheid, biodiversiteit en die bestaansmiddele wat met die streek se landbougrond verband hou.

Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing David Maynier het die verklaring beskryf as ’n belangrike stap in die beskerming van een van Suid-Afrika se mins beskermde biome en ’n strategiese waterlandskap.

’n Besonderse kenmerk van die park is dat grondeienaars hul eiendomme kan behou. Die park is hoofsaaklik deur ’n biodiversiteitsbewaringsmodel gevestig, waarvolgens deelnemende grondeienaars hul grond in eie besit hou, maar instem tot bepaalde bewarings- en bestuursvereistes. Dit maak dit moontlik dat bewaring saam met versoenbare landbouaktiwiteite voortgaan.

Volgens Maynier is dit die eerste nasionale park in Suid-Afrika wat hoofsaaklik deur dié model tot stand gekom het.
SANParke sal die park bestuur ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede, 2003.
Die verklaring volg nadat ’n kennisgewing van voorneme reeds in 2025 gepubliseer is en die vereiste wetlike proses daarna afgehandel is.

Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en SANParke het saam met WWF Suid-Afrika en ander vennote aan die vestiging van die park gewerk.