DonnaJean Wilde, ’n 61-jarige ouma en afgetrede onderwyseres van Alberta in Kanada, het haar eie wêreldrekord verbeter nadat sy vyf uur lank aaneen in die plankposisie gebly het.

Wilde het die poging op 6 Oktober tydens die Huntsman World Senior Games in Utah aangepak. Haar tyd van vyf uur verbeter haar vorige rekord van 4 uur, 30 minute en 11 sekondes, wat sy op 21 Maart 2024 opgestel het. Guinness World Records het bevestig dat dit ’n aansoek vir haar jongste poging ontvang het, maar die nuwe rekord moet nog amptelik bekragtig word.

Die plank is ’n oefening waarin ’n mens ’n opstootposisie behou terwyl jy op jou voorarms rus. Dit help om die kernspiere te versterk en kan ook bydra tot beter postuur en ondersteuning van die rug.

Wilde, ’n ma van vyf en ouma van 12, het meer as ’n dekade gelede met planking begin nadat sy haar pols gebreek het. Sy het destyds ontdek dat sy steeds kon oefen terwyl haar arm in gips was.

Sy het selfs skoolwerk gelees, vraestelle nagesien, ‘n boek geskryf en e-posse gelees terwyl sy geplank het. Die gewoonte het só deel van haar daaglikse lewe geword dat sy selfs haar studies vir haar meestersgraad voltooi het terwyl sy in die plankposisie was. Haar familie het haar uiteindelik aangemoedig om vir die wêreldrekord te probeer.

Voor haar 2024-poging het Wilde lang planksessies gedoen en dit met hardloop, touspring en gewigsoefening gekombineer. Sy het ook motiveringsboeke oor atlete gelees om te leer hoe hulle hulself geestelik vir kompetisie voorberei.

Op 21 Maart 2024 het sy haar eerste wêreldrekord in die gimnasium van haar voormalige skool opgestel.
Meer as twee jaar later wys Wilde geen teken dat sy rustiger wil leef nie.

Die dag ná haar jongste vyf uur lange poging het sy ook aan die Senior Games se 3 000 meter-baanitem deelgeneem.