Noord-Korea het sy ambassadeur in Brittanje teruggeroep, net ’n maand nadat hy sy pos aanvaar het. Die besluit volg nadat Brittanje sanksies ingestel het teen ’n Noord-Koreaanse kinderkamp.
Volgens berigte het Noord-Korea ook sy diplomatieke betrekkinge met Brittanje afgegradeer. Die land sal voorlopig slegs deur ’n saakgelastigde in Londen verteenwoordig word totdat die sanksies opgehef word.
Die Britse regering het die Songdowon Internasionale Kinderkamp in Mei op sy sanksielys geplaas. Brittanje beweer die kamp is deel van Russiese jeugprogramme wat betrokke is by die verskuiwing en ideologiese beïnvloeding van Oekraïense kinders.
Die Noord-Koreaanse ambassade in Londen het die sanksies veroordeel en dit beskryf as ’n “veragtelike, onetiese en polities gemotiveerde provokasie”.
Volgens die ambassade probeer Brittanje Noord-Korea se beeld beskadig en die land se verhouding met Rusland verswak.
Noord-Korea se ministerie van buitelandse sake het vroeër gewaarsku dat Brittanje ’n prys vir die besluit sal betaal.
Die ministerie het die sanksies as ongegrond beskryf en aangevoer dat dit die regte en belange van Noord-Koreaanse kinders benadeel. Volgens Pyongyang ontvang kinders by die kamp die beste moontlike sorg.
Die Britse departement van buitelandse sake wou nie kommentaar lewer oor die ambassadeur se terugroeping of die rede daarvoor nie.
Brittanje het verlede jaar ’n nuwe ambassadeur vir Noord-Korea aangestel, hoewel sy ambassade in Pyongyang sedert die Covid-19-pandemie gesluit is.