Moskou is deur die grootste Oekraïense hommeltuigaanval sedert die begin van die oorlog geteiken. Byna 200 hommeltuie het teikens rondom die Russiese hoofstad aangeval en groot rookwolke die lug ingestuur.
Volgens Andrei Vorobjof, goewerneur van die Moskou-streek, is 17 mense beseer.
Rusland se ministerie van verdediging sê sy magte het binne 24 uur byna 1 000 Oekraïense hommeltuie en vier kruisermissiele onderskep en vernietig. ’n Olie-opgaarput in die Rostof-streek is egter getref, waar een persoon dood is.
Die Oekraïense president, Volodimir Zelenski, het gesê die aanval was ’n reaksie op Rusland se aanval op Kiëf verlede week, waartydens ’n belangrike godsdiensgebou aan die brand geraak het.
“Dit is tyd dat hierdie oorlog beëindig word, en Rusland moet die nodige diplomatieke stappe neem,” het Zelenski gesê.
Hy het bygevoeg: “Ons wou nooit hierdie oorlog hê nie. Maar as Oekraïne brand, sal Moskou ook brand.”
Die Kapotnja-olieraffinadery in suidoos-Moskou is vir die derde keer in ’n maand getref. Verskeie ontploffings het brande veroorsaak, terwyl beeldmateriaal wys hoe die deksel van ’n groot olietenk deur die krag van ’n ontploffing die lug in geslinger word.
’n Nabygeleë winkelsentrum het ook aan die brand geslaan nadat wrakstukke van ’n hommeltuig daarop geval het. Verskeie woonstelgeboue moes ontruim word.
Moskou se vier lughawens is tydelik gesluit en meer as 500 vlugte is vertraag of gekanselleer.
Ondanks Russiese beperkings op die publikasie van foto’s en video’s van aanvalle, het talle opnames op sosiale media verskyn wat hommeltuie en ontploffings in nywerheidsgebiede rondom Moskou wys.
Volgens kenners gebruik Oekraïne dikwels groot getalle lok-hommeltuie om Rusland se lugverdediging te toets voordat die hoofaanval geloods word.
Aanvalle op Moskou, sowat 500 kilometer van die Oekraïense grens af, het die afgelope paar jaar meer gereeld geword namate Oekraïne sy langafstand-aanvalvermoë uitgebrei het.
Kenners sê geen lugverdedigingstelsel kan volkome beskerming bied teen grootskaalse aanvalle met moderne hommeltuie nie. Die jongste aanval sal waarskynlik vrae laat ontstaan oor die doeltreffendheid van Moskou se lugverdediging.
Rusland het intussen ook teruggeslaan. Volgens Oekraïense owerhede het Rusland meer as 200 hommeltuie en verskeie ballistiese missiele gedurende die nag op Oekraïne afgevuur.
Die Russiese president, Wladimir Poetin, het nog nie kommentaar oor die aanval gelewer nie.
Oekraïne se minister van buitelandse sake, Andri Sybiha, het op sosiale media geskryf:
“Een van die gewildste vrae wat inwoners van Moskou vanoggend vra, is: ‘Wat gaan aan?’”
Hy het self die antwoord gegee:
“Julle land het ’n aggressieoorlog teen ons begin. Julle maak al jare lank ons mense dood. Noudat julle weet wat aangaan, vra vir Poetin wanneer hy beplan om dit te beëindig.”