Dr. Wynand Boshoff, LP van die VF Plus, het op Facebook oor die parlement se portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelike ontwikkeling geskryf en gewaarsku dat Afrikaners duidelike keuses oor grond en hul toekoms in Suid-Afrika in die gesig staar.
Volgens Boshoff is die komitee “nie ’n plek waar Afrikaners gaan vriende soek nie”. Hy skryf dat, indien die res van die parlement nie reeds ongemaklike terrein vir Afrikaners is nie, dié komitee sekerlik die deel is “wat jou uitjou en met nartjies gooi” — en dat daar volgens hom glad nie probeer word om weg te steek dat dit oor ras gaan nie.
Boshoff skryf dat die vergadering vandeesweek gehandel het oor vordering met die herstel van die grondregte van deelsaaiers — swart mense wat op wit boere se plase gewoon en ’n deel van die grond vir eie rekening bewerk het in ruil vir ’n deel van hul beskikbare arbeid.
Hy sê lede van die ANC, EFF en MK het dit in die krasste moontlike terme beskryf: wit mense wat grond met geweld verower en die regmatige eienaars soos slawe laat werk het, in sommige gevalle volgens dié vertolking tot vandag toe. Boshoff meen dié weergawe laat geen ruimte vir nuanse in die geskiedenis nie.
Volgens Boshoff word daar in dié forum geen erkenning gegee aan ooreenkomste, kooptransaksies of vreedsame interaksie tussen wit en swart mense in die verlede nie.
Hy skryf verder dat die huidige grondwetlike bedeling deur sommige lede uitgebeeld word as ’n bestel waartoe goedgelowige swart leiers ingestem het en wat wit mense nou volgens hulle teen dié leiers gebruik.
Boshoff noem ook dat sommige lede kennis geneem het van voorstelle deur sekere wit drukgroepe vir ’n grondwetlike opvolgskikking. Volgens hom sou hulle so ’n proses verwelkom omdat hulle glo hulle sal nie weer so maklik “gevang” word nie.
Boshoff skryf dat, hoewel die retoriek hom gedurende sy eerste maande in die komitee bekommer het, hy later besef het dat dit nie al is wat daar gebeur nie.
Party lede kla volgens hom ook oor onbekwaamheid en selfs oneerlikheid in die staatsdepartement wat vir grondhervorming verantwoordelik is — iets wat volgens hulle die proses al langer as 30 jaar kniehalter.
Hy noem ook herhaalde begrotingsbesnoeiings as ’n faktor wat dit selfs vir bekwame en hardwerkende amptenare moeilik maak om hul werk behoorlik te verrig.
Die gevolgtrekking van dié lede, skryf Boshoff, is dat grondhervorming misluk weens hardnekkige weerstand onder wit mense, ’n onbevoegde departement en ’n regering wat nie die proses ernstig genoeg opneem om dit behoorlik te finansier nie.
Volgens Boshoff is hulle daarom ook van mening dat die regering van nasionale eenheid (RNE) “’n gruwel is wat moet eindig”.
Boshoff trek ’n lyn deur die geskiedenis van Afrikaners se reaksie op verandering. Hy skryf dat die algemene patroon sedert die “Winde van Verandering” oor Afrika begin waai het, was om sover moontlik te probeer om alles te hou soos dit is.
Hy verwys onder meer na weerstand teen die tuislandbeleid. Hoewel opeenvolgende regerings volgens Boshoff probeer het om tuislande vir swart selfbeskikking te ontwikkel, was weerstand daarteen onder Afrikaners betreklik algemeen. Hy wys daarop dat PW Botha se aanvanklike pogings om die tuislande te konsolideer — wat volgens Boshoff daarop neergekom het dat meer grond aan hulle gegee sou word — diep ongewild was.
Hy verwys ook na beheer oor swart mense se bewegingsvryheid en skryf dat die afskaffing daarvan in 1986 selfs onder ondersteuners van die Nasionale Party ongewild was, en des te meer onder ondersteuners van die Konserwatiewe Party.
Weerstand teen onderhandelinge wat op magsverlies sou uitloop, was volgens Boshoff nóg sterker. Hy beweer dat oud-president FW de Klerk dit nie sonder “’n aantal strategiese leuens” sou kon deurvoer nie.
Boshoff skryf egter dat dié weerstand nie gemik was op die skepping van ’n ander soort samelewing waarin Afrikanervryheid volhoubaar sou wees nie.
Voorstelle wat wel in dié rigting beweeg het, soos die Orania-gedagte, was volgens hom nooit besonder gewild onder Afrikaners nie. Hy voer aan dat die handhawing van ’n minderheidsregering met geweld vir baie aanvaarbaarder was as om in ’n yl bevolkte gebied ’n meerderheid te vorm en dit deur eie arbeid te handhaaf.
Ná 1994, toe die verlies aan politieke mag ’n voldonge feit geword het, het die strategie volgens Boshoff verander.
Hy meen Afrikaners het daarna eerder probeer om ’n ekonomies oorheersende minderheid te wees. Volgens hom het politieke vryheid minder belangrik geword solank mense geld kon verdien en ’n gevoel van geborgenheid binne hul kulturele ruimtes kon handhaaf.
Boshoff waarsku dat die lede wat volgens hom die vyandigste standpunte in die grondhervormingskomitee inneem, tans nie toonaangewend in die regering is nie, maar dat dit kan verander.
Indien dit gebeur, meen hy, sal hulle bereid wees om ekonomiese verwoesting te aanvaar in ’n poging om “ware bevryding” af te dwing.
Boshoff stel drie moontlikhede vir Afrikaners voor:
  1. Om voort te gaan om dinge sover moontlik te hou soos dit is en verandering te vertraag. Afrikaners se kulturele ruimtes sal volgens hom steeds kwyn, maar stadig genoeg dat die gevolge nie onmiddellik gevoel word nie.
  2. Dat verandering skielik en drasties toeslaan, waarna Afrikaners volgens hom sal moet veg, vlug of uiteindelik inpas.
  3. Om te besef dat ’n volk grond onder sy voete nodig het om te oorleef. Volgens Boshoff hoef die hele volk nie daar te woon nie, maar dié geografiese grondslag moet sterk genoeg wees om ’n toekoms oor geslagte heen te verseker, eerder as bloot vir die volgende jaar of wat.
Boshoff se eie vrees is dat Afrikaners se gebrek aan strategiese beplanning daartoe sal lei dat hulle verandering so lank moontlik probeer vertraag. Dit kan volgens hom frustrasie onder swart mense aanwakker, wat uiteindelik tot drastiese, skielike en vernietigende verandering kan bydra.
Afrikaners sal dan, waarsku hy, “baie verbaas en verneuk” voel.
Hy sluit af met die hoop dat die tyd wat nog beskikbaar is eerder gebruik sal word om vir Afrikaners ’n “durende toekoms” te skep.
Volgens Boshoff sal dit harde werk, doelgerigtheid, geduld met ons eie gebreke, en realisme verg.