Die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) het ’n nuwe Grondwet vir Orania aanvaar waarin die gemeenskap se Christelike en Afrikanergrondslag, strewe na selfbeskikking en staatkundige ordening uiteengesit word.
Die Grondwet is op 13 Augustus 2026 deur die OVR aanvaar en het dieselfde dag in werking getree.
Die dokument beskryf Orania as ’n selfbeskikkende gemeenskap wat ten doel het om vir die Afrikanervolk ’n tuiste te bied. ’n Protestants-Christelike geloofs- en wêreldbeskouing vorm uitdruklik deel van die gemeenskap se grondslag, met erkenning van die Drie-Enige God van die Bybel.
Volgens die aanhef word Orania se eie kultuur en taal as gawes van God beskou, terwyl vryheid met verantwoordelikheid, rentmeesterskap en diens aan God en die gemeenskap verbind word.
Afrikaans word in die Grondwet as Orania se amptelike taal bepaal.
Eie arbeid en selfwerksaamheid vorm ’n belangrike beginsel van die Grondwet. Die dokument verbind volhoubare volksvryheid aan ’n demografiese werklikheid binne Orania se grondgebied wat tot voordeel van die Afrikanervolk moet wees en bly.
Die Grondwet kies ook uitdruklik vir ’n vryemarkekonomie, met privaateiendomsreg as hoeksteen. Entrepreneurskap en vrye mededinging word ondersteun, terwyl die rol van die owerheid beperk word.
Die dokument bepaal verder dat belasting en heffings nie as ’n instrument gebruik behoort te word om ’n sentraal beplande ekonomie te vestig nie.
Orania se Grondwet bevat ’n Handves van Regte en Verantwoordelikhede.
Dit erken onder meer die reg op lewe, vryheid van beweging en assosiasie, gelykheid voor die reg, menswaardigheid, privaatheid en vryheid van mening wat met Orania se geloofsgrondslag versoenbaar is.
Die dokument beklemtoon terselfdertyd dat individuele regte nie los van verantwoordelikheid teenoor die naaste en die gemeenskap beskou word nie.
Die Grondwet maak voorsiening vir ’n federale regeringstruktuur. Orania se owerheid bestaan uit die OVR, die federale gebiede en Orania Regspleging, wat elkeen ’n eie rol, funksie, verantwoordelikheid en bevoegdheid het.
Die OVR bestaan uit ’n Burgerraad en ’n Gebiedsraad.
Die Burgerraad bestaan uit agt stemgeregtigde burgers wat deur verkiesings aangewys word, terwyl die Gebiedsraad uit twee verteenwoordigers van elke federale gebied bestaan.
Die Grondwet maak ook voorsiening vir die skeiding van magte. Regsprekende gesag setel nie in die OVR nie, met Orania Regspleging wat in dié verband erken word.
Verblyfreg, burgerskap en stemreg word afsonderlik in die Grondwet behandel.
Vir persone van 23 jaar en ouer word minstens vyf jaar se aaneenlopende verblyfreg vereis om vir burgerskap te kwalifiseer.
Vir persone ouer as 18 maar jonger as 23 geld ’n ander bepaling: hulle moet minstens vyf jaar ononderbroke op Orania se grondgebied gewoon het.
Elke burger is in beginsel geregtig om in Burgerraadverkiesings te stem, onderhewig aan die bepalings en diskwalifikasies wat in die Grondwet uiteengesit word.
Die nuwe vereistes word egter geleidelik ingestel. Die burgerskap- en stemregbepalings geld nie vir die eerste algemene Burgerraadverkiesing ná die aanvaarding van die Grondwet nie. By die tweede verkiesing geld ’n verkorte tydperk van twee jaar en ses maande, waarna die bepalings ten volle toegepas word.
Selfbeskikking vorm ’n belangrike deel van die dokument. Dit word omskryf as die strewe en reg van ’n volk om wetgewende besluite te neem oor sake wat sy belange raak en dié besluite af te dwing.
Orania se strategie word onder meer verbind aan ’n groeiende konsentrasie Afrikaners in Orania en die omgewing, die versterking van eie instellings en die verkryging van verdere erkenning deur relevante owerhede.
Die volledige nuwe Grondwet en verdere inligting oor die OVR is op www.ovr.co.za beskikbaar. Volgens die OVR kan belangstellendes ook hul e-posadresse op die webwerf registreer om op hoogte van nuus, aankondigings en belangrike sake te bly.
Boer24.com bring jou die nuus in Afrikaans!