’n Eeu nadat Emily Hobhouse met ’n staatsbegrafnis in Bloemfontein vereer is, sal honderde mense op 31 Oktober by die Vrouemonument saamtrek om haar lewe en nalatenskap te herdenk.

Die geleentheid vorm deel van die Emily100-projek en sal so getrou moontlik aan die oorspronklike begrafnis van 1926 herskep word. Sowat 650 mense sal in tydsgetroue kleredrag aantrek.

Die oorspronklike staatsbegrafnis is deur sowat 20 000 mense bygewoon en was die eerste staatsbegrafnis wat in Suid-Afrika vir ’n vrou gehou is.

Begrafnis van 1926 word herskep

Sowat 200 leerlinge van Eunice High School en die Hoër Meisieskool Oranje sal op 31 Oktober ongeveer 600 m in Monumentpad na die Vrouemonument stap.

Die Vrystaatse jeugblaasensemble, onder leiding van Dingaan Chabalala, sal die mars lei. ’n Perdekommando wat uit mans en vroue bestaan, sal ook deel van die verrigtinge wees.

Die organiseerders probeer verskeie elemente van die oorspronklike begrafnis herskep. Maynie en Tibbie Steyn het destyds onder meer 350 palmblare vir Hobhouse se begrafnis gereël.

’n Predikant sal die diens by die monument met gepaste gesange en psalms lei. ’n Duitse gebed uit daardie tyd sal gebid en Händel se Largo gespeel word.

Jan Smuts se oorspronklike huldeblyk aan Hobhouse sal ook weer gelewer word.

Hobhouse het toestande in kampe blootgelê

Hobhouse word veral onthou vir haar optrede tydens die Anglo-Boereoorlog, toe sy die haglike toestande in die konsentrasiekampe blootgelê het.

Elsabé Brits, leier van die Emily100-projek, beskryf haar as ’n fluitjieblaser wat teen groot persoonlike koste die toestande in die kampe, wat deur die Britte bestuur is, aan die lig gebring het.

Volgens Brits het Hobhouse ’n magtige ryk uitgedaag in ’n tyd toe patriotiese gevoelens tydens die oorlog hoog geloop het.

’n Dagboek van 300 bladsye wat aan Maynie Fleck, een van Hobhouse se naaste vriendinne, behoort het, is een van die waardevolste items wat vir die projek behoue gebly het.

Konsentrasiekamp word gedeeltelik herskep

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke sal op die dag ’n demonstrasie aanbied van hoe kant gespin is. Daarmee word erkenning gegee aan die skool wat Hobhouse ná die oorlog gestig het om Boerevroue te bemagtig.

Besoekers sal ook ’n nuwe uitstalling oor Hobhouse se lewe kan besigtig. ’n Gedeelte van ’n konsentrasiekamp sal herskep word om te wys hoe dit destyds gelyk het, terwyl geskiedkundige artefakte uit dié tyd ook uitgestal sal word.

Die verrigtinge sal om 11:00 regstreeks vanaf Bloemfontein op kykNET uitgesaai word.

Hobhouse se verhaal op die verhoog

Die musiekteaterproduksie The Story of Emily, geskryf deur Deon Opperman en onder regie van Nico Scheepers, sal van 28 tot 31 Oktober in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein opgevoer word.

Kate Normington vertolk Hobhouse, met David Minnaar as lord Milner, Greg Viljoen as lord Kitchener en Daneel van der Walt as verteller.

Volgens Scheepers is die musiekblyspel ’n gepaste manier om die emosie, tragedie en hoop van Hobhouse se verhaal oor te dra. Die doel is om haar hart en siel binne die konteks van haar tyd te wys, eerder as om bloot ’n dokumentêre weergawe van haar lewe aan te bied.

Die hekke vir die herdenkingsgeleentheid open om 08:30 en besoekers moet teen 10:30 hul plekke inneem. Kaartjies kos R15 per persoon en parkering op die skouterrein sal gratis wees.

Kaartjies vir Ons onthou Emily kos R15 per persoon en is by Webtickets beskikbaar. Meer besonderhede oor die eeufeesprojek is op Emily100.com beskikbaar.