’n AfriForum-protospanlid het op 23 September ’n gewapende rower in Bronkhorstspruit geskiet nadat die man hom en ander persone met ’n vuurwapen beroof het.
Die protospanlid en die ander slagoffers het die middag ná werk by sy voertuig gestaan en gesels toe die gewapende man hulle genader het. Volgens AfriForum het die verdagte sy vuurwapen op die groep gerig en hulle gedwing om hul sakke leeg te maak.
Die verdagte het daarna sy aandag na die voertuig verskuif om te kyk wat hy daaruit kon steel.
Geleentheid om op te tree
Die protospanlid het aanvanklik aan die verdagte se bevele gehoor gegee en die situasie dopgehou. Toe die man se aandag vir ’n oomblik verslap, het die lid sy eie vuurwapen getrek.
Hy het die verdagte beveel om sy wapen neer te lê. Volgens AfriForum het die man geweier en sy vuurwapen steeds op die ander slagoffers gerig.
Die protospanlid het toe ’n skoot afgevuur en die verdagte gewond. Die man se vuurwapen is daarna afgeneem en veilig gemaak.
Die protospanlid het toegesien dat die gewonde verdagte na ’n hospitaal vervoer word vir behandeling, waarna die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontbied is om die saak verder te hanteer.
AfriForum beklemtoon opleiding
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê die voorval wys waarom behoorlike opleiding van veiligheidsvrywilligers volgens die organisasie noodsaaklik is.
“Hierdie lid het hom in ’n lewensgevaarlike situasie bevind waar ’n enkele verkeerde besluit ernstige gevolge kon hê. Hy het kalm gebly, die situasie deurlopend beoordeel en eers opgetree toe dit nodig geword het om lewens te beskerm,” het Broodryk gesê.
Hy het ook daarop gewys dat die protospanlid ná die skietery die bedreiging onder beheer gebring, die vuurwapen veilig gemaak en seker gemaak het dat die gewonde verdagte mediese behandeling ontvang.
AfriForum sê meer as 500 protospanlede is reeds as deel van sy landwye netwerk van 177 buurt- en plaaswagte opgelei. Die opleiding is daarop gemik om vrywilligers voor te berei om tydens ernstige en gewelddadige voorvalle as eerste reageerders op te tree.
Volgens Broodryk word gemeenskapsveiligheidsvrywilligers dikwels met gevaarlike situasies gekonfronteer lank voordat die polisie of ander nooddienste op die toneel kan wees.
“Wanneer sekondes die verskil tussen lewe en dood kan beteken, moet ’n mens onder geweldige druk steeds die regte besluite kan neem,” het hy gesê.
Terugspore/Pingbacks