Die publikasie van die eerste sogenaamde drietalige Kaapse woordeboek het nuwe vrae laat ontstaan oor die rigting waarin Afrikaans as kultuur- en standaardtaal beweeg.
Die woordeboek is saamgestel deur die Sentrum vir Meertaligheid en Diversiteitsnavorsing (CMDR) aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), in samewerking met die Heal the Hood-projek. 
Volgens die samestellers word die publikasie beskou as ’n mylpaal vir Kaaps – ’n taalvorm wat oor eeue heen ontwikkel het en wat nou groter erkenning moet geniet. Die doel is om negatiewe persepsies te verander en Kaaps as ’n opvoedkundige hulpmiddel te vestig in verskeie sfere van die samelewing.
Kaaps word dikwels as ’n informele of sogenaamde “slang”-vorm van Afrikaans beskryf.Dit het  ’n geskiedenis wat terugstrek na die 1500’s en het ontstaan uit kontak tussen verskillende volke aan die Kaap, waaronder die Khoi en San, mense uit Suidoos-Asië en Europese setlaars. Dit is vandag nog ’n lewende spreekwyse, veral op die Kaapse Vlakte.
Voorbeelde van Kaaps se invloed sluit woorde soos “aweh” in, wat sy oorsprong het in taalinvloede van inheemse volke.
Maar juis hier ontstaan die kernvraag: moet elke spreekwyse of dialek verhef word tot die vlak van ’n volwaardige taal ten koste van die standaardvorm?
Afrikaans het oor dekades heen ontwikkel tot ’n sterk, gestandaardiseerde kultuurtaal – ’n taal van onderwys, geloof, letterkunde en wetenskap. Hierdie standaardisering was nie toevallig nie, maar die resultaat van doelbewuste opbou, verfyning en beskerming van die taal.
Wanneer Afrikaans nou vereenvoudig of afgewater word tot informele spreekwyses wat as “slang” beskou kan word, bestaan die gevaar dat die taal se struktuur, rykdom en waardigheid aangetas word. Dit kan lei tot ’n vervlakking wat nie opbou nie, maar eerder afbreek.
Hoewel die geskiedenis van Kaaps erkenning verdien, behoort dit nie aangewend te word op ’n wyse wat die eenheid en suiwerheid van Afrikaans ondermyn nie. Afrikaans is meer as die som van sy dialekte – dit is ’n opgeboude erfenis wat beskerm moet word.