TAMALE – Sulemana Abdul Samed, wat as Ghana se langste man bekend gestaan het, is Maandag in die ouderdom van 33 in ‘n hospitaal in Tamale oorlede nadat hy vir besmette sere aan sy bene opgeneem is.
Samed, wat algemeen onder sy bynaam Awuche bekend gestaan het, het die afgelope jare met komplikasies van Marfan-sindroom, ‘n genetiese afwyking wat die liggaam se bindweefsel aantas, gesukkel.
Hy is in sy twintigerjare met gigantisme gediagnoseer en was in 2022 223 cm lank. Volgens berigte het hy moontlik daarna nog langer geword.
Volgens ‘n familielid, Sulemana Abdul Kudus, het dokters gesê Samed het aanvanklik goed op behandeling gereageer, maar hy is Maandagoggend in die hospitaal oorlede.
“Almal is hartseer,” het Kudus gesê. “Mense kom steeds na die huis om uit te vind wat presies gebeur het.”
Samed se buitengewone lengte het hom ‘n bekende figuur in die noorde van Ghana gemaak en sy tuisdorp, Gambaga, regoor Ghana bekendheid besorg.
“Waar hy ook al gegaan het, het hy gesê hy kom van Gambaga, en mense het geweet dit is die tuiste van Ghana se langste man. Dit het die gemeenskap ‘n identiteit gegee, en hy was baie gewild,” het Kudus gesê.
Volgens Samed het sy liggaam eers omstreeks die ouderdom van 22 vinnig begin groei terwyl hy by ‘n slaghuis in Accra gewerk het.
Hy het vertel dat sy tong aanvanklik vergroot het en dat ander dele van sy liggaam kort daarna ook begin groei het. Hy is uiteindelik met Marfan-sindroom gediagnoseer.
Die toestand het sy droom om ‘n bestuurder te word verydel en hom genoop om na Gambaga terug te keer. Met verloop van tyd het sy toestand ook vererger, en hy kon later nie meer kort afstande stap of sokker speel soos vroeër nie.
Ondanks sy gesondheidsuitdagings het Samed sy bekendheid geniet en was hy volgens familielede bekend vir sy vriendelikheid en vrygewigheid.
Die familie het besluit om hom in Tamale te begrawe eerder as in Gambaga, omdat hulle verwag dat die dorp deur roubeklaers oorweldig sou word.