Suid-Afrika se suidelike noorkappermoeders is in aansienlik swakker liggaamskondisie as vier dekades gelede en neem nou gemiddeld sewe jaar, pleks van die tradisionele drie, om weer ’n kalf te kry.
Navorsing waarby dr. Els Vermeulen, navorsingsbestuurder by die Universiteit van Pretoria se Soogdiernavorsingsinstituut se Walviseenheid, betrokke is, toon dat die liggaamskondisie van dié moeders met 23% afgeneem het vergeleke met die 1980’s.
Volgens Vermeulen lyk die walvisse vir mense steeds baie groot, maar is hulle effens minder lywig of maerder.
Dit is betekenisvol omdat ’n sogende wyfie sowat 25% van haar liggaamskondisie kan verloor terwyl sy langs die Suid-Afrikaanse kus nie vreet nie en haar energie gebruik om haar kalf te voed en te laat groei.
Die walvisse vreet in die Antarktiese streek, waar hulle genoeg energiereserwes moet opbou vir hul migrasie, dragtigheid en ’n intensiewe soogtydperk van drie maande langs die Suid-Afrikaanse kus.
Minder kril kan ’n rol speel
Wanneer ’n wyfie nie genoeg kos kry nie, stel sy volgens Vermeulen haar volgende dragtigheid uit totdat haar liggaamskondisie voldoende herstel het. Sommige wyfies neem nou twee, drie of vier jaar om weer genoeg energiereserwes vir ’n suksesvolle dragtigheid en soogtydperk op te bou.
Volgens Vermeulen dui baie van die navorsing op ’n afname in die beskikbaarheid van kril, die walvisse se vernaamste voedselbron. Kril het minder beskikbaar geraak in gebiede waar die walvisse dit voorheen gevind het.
Die walvisse kan gevolglik verder die suidwestelike Atlantiese Oseaan in swem om voldoende kril te vind, of nader aan Suid-Afrika rondom die subtropiese konvergensie vreet, waar die voedsel moontlik minder voedsaam is.
“Dus swem hulle óf verder vir die goeie kos, óf hulle bly nader vir kos van ’n laer gehalte,” het Vermeulen gesê.
Sowat 300 kalwers dié seisoen
Suidelike noorkappers plant betreklik stadig voort in vergelyking met sommige ander baardwalvisse, wat hulle besonder gevoelig vir veranderings in hul omgewing maak. Volgens Vermeulen kan die spesie daarom as ’n belangrike aanwyser van die toestand van die Suidelike Oseaan-ekosisteem dien.
Die veranderinge in hul liggaamskondisie en voortplanting kan volgens die navorsers op die uitwerking van klimaatsverandering op kril en die breër mariene ekosisteem dui.
Ondanks dié langtermynveranderinge sien navorsers tans sowat 300 kalwers langs die Suid-Afrikaanse kus. ’n Amptelike telling word oor twee weke verwag. Die getal is volgens Vermeulen soortgelyk aan dié van 2022 en 2024, wat die moontlikheid laat dat volgende jaar ’n besonder goeie kalfjaar kan wees.
Navorsers hou ook ’n sterk El Niño wat in die Stille Oseaan ontwikkel dop, aangesien dit nog onseker is hoe dit die beskikbaarheid van kril gedurende die komende somer sal beïnvloed. Hulle sal ook dophou hoe die voedingstoestande walvisse raak wat tans dragtig is.