Die polisielid wat vroeër vanjaar aandag getrek het nadat hy in krokodilbesmette water ingegaan het om ’n reeds doodgemaakte krokodil uit die Komatirivier te haal, is bevorder.

Johan “Pottie” Potgieter, wat voorheen die rang van kaptein beklee het, is nou ’n luitenant-kolonel.

Potgieter is hoof van die Ehlanzeni-polisieduikeenheid in Mpumalanga en het in Mei lof ontvang vir sy optrede tydens die gevaarlike operasie.

Hy is tydens die voorval uit ’n SANParke-helikopter in die rivier laat sak en het die krokodil met ’n tou vasgemaak sodat die dier uit die water gehaal kon word.

Die krokodil is reeds van kant gemaak voordat Potgieter dit uit die rivier gehaal het. Menslike oorskot is daarna in die dier gevind.

Die polisie het destyds vermoed dat die oorskot moontlik aan ’n vermiste sakeman behoort het.

Potgieter se optrede is later deur waarnemende nasionale polisiekommissaris luitenant-generaal Puleng Dimpane geloof, wat sy dapperheid, onbaatsugtigheid en toewyding geprys het.

Potgieter sê hy is dankbaar vir sy bevordering nadat hy 28 jaar lank kaptein was.

Hy het ook die gemeenskappe in Mpumalanga en mense wat op sosiale media en WhatsApp vir sy bevordering gepleit het, bedank.

Volgens Potgieter sal sy nuwe rang hom nie van sy huidige werk wegneem nie. Hy bly aan die hoof van die Ehlanzeni-polisieduikeenheid en sê hy sal steeds op grondvlak werk en duikoperasies uitvoer.

“Ek gaan nêrens heen nie. Ek is steeds in Mpumalanga,” het hy gesê.