HERTZOGVILLE – ‘n Jong Suid-Afrikaanse plaaswerker wat vroeër vanjaar ernstige beserings in ‘n vuurwerkongeluk in die Verenigde State opgedoen het, is dankbaar dat sy Amerikaanse werkgewer hom die geleentheid gegee het om in Amerika aan te bly en sy werk voort te sit terwyl hy van sy beserings herstel.
Hendrikus Boshoff (22) van Hertzogville in die Vrystaat het op 4 Julie, Amerika se Onafhanklikheidsdag, ernstige beserings opgedoen toe ‘n vuurwerk kort ná aansteek ontplof het.
Volgens Zelda Da Silva, ‘n vriendin van die Boshoff-familie, het die ontploffing gelei tot die gedeeltelike amputasie van vingers aan Boshoff se regterhand, ernstige senuweeskade aan sy handpalm, brandwonde aan sy linkerhand en bors, asook skeurwonde aan sy gesig. Sy vriend het ernstige gesig- en oogbeserings opgedoen.
Boshoff, wat op ‘n plaas in Noord-Dakota werk, is aanvanklik na ‘n hospitaal in Carrington geneem voordat hy per lugambulans na ‘n beter toegeruste hospitaal in Fargo oorgeplaas is.
Hoewel hy intussen uit die hospitaal ontslaan is en goed herstel, sal die skade aan sy regterhand permanent wees. Hy sal volgens Da Silva nog steke moet laat verwyder en fisioterapie en opvolgbehandeling ondergaan.
Sy sê Boshoff het aanvanklik emosioneel swaar gekry oor die verlies van sy vingers, maar dat die ondersteuning van sy Amerikaanse werkgewer ‘n groot verskil gemaak het.
Volgens Da Silva het die werkgewer hom die keuse gegee om na Suid-Afrika terug te keer of in Amerika aan te bly en sy werk voort te sit. Terwyl hy herstel, doen Boshoff ligter werk, soos plaasinspeksies, en vra hy kollegas om hom met swaarder werk te help.
Boshoff werk sedert 2023 as ‘n H-2A-landbouwerker in die Verenigde State. Nadat hy aanvanklik met die oprigting van graansilo’s gehelp het, het hy verlede jaar by dieselfde werkgewer in Noord-Dakota begin werk, waar hy seisoenale plaaswerk met vee en gewasse doen.
Ondanks sy vordering wag ‘n groot finansiële uitdaging steeds op hom. Omdat sy beserings opgedoen is terwyl hy aan diens was, word sy mediese uitgawes nie deur die werkersvergoedingsversekering gedek nie, aangesien Amerikaanse werkgewers nie wetlik verplig is om H-2A-werkers by dié versekering in te sluit nie.
Da Silva sê Boshoff het ook nie aanvullende persoonlike mediese versekering gehad nie omdat die koste daarvan te hoog was.
Sy mediese rekeninge beloop tans sowat $80 000 (meer as R1,3 miljoen) en kan volgens Da Silva nog verder styg. Boshoff en sy ondersteuners doen intussen aansoek om afslag en toegewings by die betrokke mediese instellings, terwyl ‘n geldinsameling ook begin is om die uitgawes te help dek.
Indien daar ná die vereffening van Boshoff se mediese uitgawes geld oorbly, sal dit gebruik word om ander mense in krisisse te help, sê Da Silva.
Vir meer inligting kan Zelda Da Silva by 072 790 1275 gekontak word.