Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die siviele haatspraakbevinding teen EFF-leier Julius Malema beteken nie dat hy outomaties van die Regterlike Dienskommissie (JDK) verwyder kan word nie.

Didiza voer in hofstukke aan dat LP’s slegs onder bepaalde omstandighede hul setels kan verloor, onder meer ná sekere strafregtelike skuldigbevindings en vonnisse. Volgens haar bestaan daar nie ’n soortgelyke grondwetlike meganisme waardeur ’n siviele hofuitspraak op sigself ’n LP se lidmaatskap van die Nasionale Vergadering beëindig of sy herroeping uit die JDK afdwing nie.

Die saak spruit uit ’n aansoek deur die Helen Suzman-stigting, wat wil hê die Nasionale Vergadering moet Malema se geskiktheid om voort te gaan dien op die JDK, heroorweeg.

Die stigting steun onder meer op ’n 2025-uitspraak waarin die Gelykheidshof bevind het dat Malema se uitlatings tydens ’n EFF-byeenkoms op haatspraak neergekom het.

Die hof het bevind dat sy uitsprake ’n oproep ingesluit het om wit mans wat by die Brackenfell-voorval betrokke was te dood, en om in die toekoms gewelddadig teen mense op te tree wat rassisties teenoor EFF-lede optree.

Didiza sê egter dié uitspraak is ’n siviele bevinding en het nie dieselfde regsgevolge as ’n strafregtelike skuldigbevinding nie.

Sy voer verder aan dat die Grondwet en die reëls van die Nasionale Vergadering nie uitdruklik voorsiening maak vir ’n proses waardeur die speaker ’n LP op grond van ’n siviele uitspraak uit die JDK kan laat verwyder nie.

Die Helen Suzman-stigting voer daarteenoor aan dat Malema se haatspraakbevinding, sy strafregtelike skuldigbevinding in ’n afsonderlike vuurwapensaak en sy geskiedenis van botsings met lede van die regbank genoeg rede is vir die Nasionale Vergadering om sy geskiktheid vir die JDK te heroorweeg.

Volgens die stigting vra dit nie dat die hof Malema direk uit die JDK verwyder nie, maar dat die Nasionale Vergadering verplig word om sy geskiktheid te heroorweeg en sy toesigplig uit te voer.

Didiza hou egter vol dat sy nie eensydig die mag het om Malema te herroep of sy aanstelling te heroorweeg nie. Sy sê sulke besluite is in wese politieke besluite van die Nasionale Vergadering en dat haar grondwetlike rol vereis dat sy onpartydig bly.

Sy meen ook die poging is voortydig omdat Malema steeds teen die haatspraakbevinding en sy strafregtelike skuldigbevinding appelleer.