Die tweede ronde van die Curriebeker Premierafdeling begin Vrydagmiddag met ‘n kragmeting tussen die onoorwonne Cheetahs en Sharks in Bloemfontein, waar albei spanne hul tweede oorwinning van die seisoen sal probeer behaal.
Albei spanne het hul openingswedstryde met skraal oorwinnings gewen en sal vertroue put uit hul vermoë om tot die eindfluitjie te baklei.
Die Sharks se hoofafrigter, Mike Vowles, verwag ‘n taai uitdaging van ‘n ervare Cheetahs-span, maar sê sy span wil voortbou op sy eerste vertoning.
“Ons sien die Cheetahs as nog ‘n geleentheid om momentum te bou, samehorigheid as groep te ontwikkel en onsself teen ‘n baie goeie span te meet.
“Hulle is ‘n gevestigde span wat al baie saam rugby speel en oor ervare spelers beskik. Ons verwag ‘n fisieke stryd, maar ek twyfel nie dat ons hulle fisiek sal kan ewenaar nie.”
Vowles sê sy span se fokus bly daarop om week ná week te verbeter en konsekwent goed te presteer.
Die Cheetahs se hoofafrigter, Frans Steyn, meen die Sharks se jong spelers is besig om hul piek te bereik en sê sy span sal op sy beste moet wees om ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning te verseker.
“Ons moet by ons stelsels en prosesse hou, maar die Sharks se jong spelers is besig om hul piek te bereik. Hulle beskik oor ongelooflike talent.
“Ons wil ‘n behoorlike vertoning lewer en wenrugby speel. Dis die enigste manier waarop ons die stadion teen die einde van die seisoen vol sal kry.”
Die veteraan-heelagter Clayton Blommetjies, wat Vrydag sy 150ste wedstryd vir die Cheetahs in alle kompetisies sal speel, sê die span moet by sy wedstrydplan hou.
“Dit gaan vir ons daaroor om ons werk te doen en die plan uit te voer wat die afrigters voorberei het. Die Sharks het baie jong spelers wat fisiek gaan speel en hard gaan aanval, maar ons fokus is op ons eie spel.
“Ons sien daarna uit. Dit gaan naby wees en dit gaan pret wees. Albei spanne sal die bal rondgooi, soos ons reeds in die eerste ronde gesien het.”
Saterdag speel die Lions tuis teen die Pumas in Johannesburg, terwyl die Griekwas en Bulls in Kimberley kragte meet. Al vier spanne is nog op soek na hul eerste oorwinning van die toernooi.
Die naweek word Sondag afgesluit met ‘n Wes-Kaapse derby tussen die Boland Kavaliers en die Stormers in Wellington. Albei spanne sal hul tweede agtereenvolgende oorwinning probeer behaal.