NUWE DELHI – Die Indiese “cockroach”-aktivis Sonam Wangchuk het sy hongerstaking van 26 dae beëindig nadat die regering hom versekering gegee het dat sy eise oor die land se omstrede eksamenstelsel aandag sal geniet. Betogings teen premier Narendra Modi se regering duur egter voort en het reeds tienduisende mense die strate laat invaar.
Wangchuk, wat in ‘n hospitaal herstel, het gesê hy het sy hongerstaking in Nieu-Delhi beëindig in die teenwoordigheid van twee senior ministers nadat die regering ingestem het om aanspreeklikheid vir die gebrekkige eksamenstelsel in die parlement te bespreek.
Volgens hom het die regering ook belowe dat families van studente wat ná die uitlek van ‘n belangrike eksamenvraestel selfmoord gepleeg het, voldoende vergoeding sal ontvang. Daarbenewens sal geen strafregtelike sake ingestel word teen studente en jongmense wat Maandag aan massabetogings in die hoofstad deelgeneem het nie.
Wangchuk het ná 26 dae sonder kos swak voorgekom, maar was volgens berigte in goeie gees. Hongerstakings het ‘n lang geskiedenis as protesmiddel in Indië en is onder meer deur Mahatma Gandhi tydens die stryd om onafhanklikheid gebruik.
Premier Modi het Wangchuk ná die beëindiging van sy hongerstaking aangemoedig om sy dokters se raad te volg en sy gesondheid te herstel.
Intussen het die Cockroach Janta Party (CJP)-beweging ‘n landwye protesdag vir Vrydag aangekondig uit solidariteit met studente wat beweer hulle is tydens Maandag se optog na die parlement deur die polisie mishandel.
Die CJP eis dat die minister van onderwys, Dharmendra Pradhan, bedank oor die uitlek van eksamenvraestelle wat na raming sowat twee miljoen studente in Mei geraak het en met verskeie selfmoorde verbind word.
Die beweging sê die regering het ingestem om Vrydag op ‘n neutrale plek met sy leiers te vergader om hul eise te bespreek.
Die betogings het reeds tienduisende mense in verskeie Indiese stede die strate laat invaar en word as die grootste uitdaging van jongmense vir Modi se regering sedert hy in 2014 aan bewind gekom het, beskou. Opposisiepartye steun die studente se eise en het die parlement se huidige sitting ontwrig.
Duisende betogers het Donderdag steeds by die Jantar Mantar-protesterrein in Nieu-Delhi saamgedrom, terwyl swaar veiligheidsmagte ontplooi is. Owerhede het ook 16 metrostasies in sentrale dele van die stad gesluit en mobiele internetdienste in die gebied laat blokkeer, wat volgens menseregtegroepe daarop gemik is om die betogings te beperk.
Modi het Donderdag aangekondig dat spesiale howe ingestel sal word om diegene wat agter die uitlek van eksamenvraestelle sit, te vervolg. Hy het ook gesê strenger maatreëls teen die uitlek van eksamenvraestelle sal ná Vrydag se kabinetsvergadering aangekondig word.
Die CJP het egter die aankondiging as onvoldoende beskryf en aangevoer dat die instelling van spesiale howe slegs een aspek van die probleem aanspreek en nie die oorsake van die herhalende uitlek van eksamenvraestelle nie.
Nadat bekende Bollywood-sterre gekritiseer is omdat hulle stilgebly het oor die protesoptrede, het verskeie akteurs, onder wie Salman Khan, Alia Bhatt en Kareena Kapoor, uiteindelik hul steun aan die studente op sosiale media uitgespreek.